Municipal

Burgemeester vergader in parkie

Kom sê jou sê, die burgemeester is hier om te luister.

’n Inwoner-imbizo is Sondagmiddag 26 November in die Boshoffstraatparkie in Modimolle gehou. Inwoners is genooi om hul klagtes rakende dienslewering met die burgemeester, Sechele Sebolai, en die munisipale bestuurder, Ben Thobela, te bespreek.

Volgens wyksraadslid Wiets Botes het sowat 40 mense die vergadering, wat onder die bome gehou is, bygewoon.

“Ek dink dit was ’n goeie vergadering. Mense kon direk hul frustrasies met die burgemeester en munisipale bestuurder deel,” het hy gesê.

Van die probleme wat inwoners geopper het, was die snoei van boomtakke wat aan oorhoofse elektrisiteitkabels raak. Hierdie onderhoud wat nie gereeld gedoen word nie, veroorsaak onnodige kragonderbrekings. Die jarelange probleem van riool by die Jasnia-woonstelle in Joe Slovoweg is ook weer onder die topbestuur se aandag gebring.

Inwoners het gevra dat daar dringend werk gemaak word om ’n ringtoevoer in te stel, wat kan verhoed dat groot dele van die woongebied se krag af is as daar êrens ’n fout op ’n lyn is. Sebolai het van die inwoners vergesel na van die plekke waar probleme ondervind word.

Daar sal volgens Botes in Februarie weer so ’n vergadering met die inwoners van die twee wyke gehou word.

Related Articles

Back to top button