Municipal

Onwettige stortingsterreine opgeruim

Die onwettige storting van vullis op die toegangsroetes vanaf Roedtan en De Brak na Mookgophong was altyd ’n seer oog vir die dorp se inwoners en het ’n gesondheidsgevaar vir die gemeenskap ingehou.

Danksy die onbaatsugtige hulp van ’n inwoner en sakeman van die dorp, het die groot skoonmaak van dié terrein vroegoggend op Vrydag 22 Julie begin.

“As dit nie vir Jaco van der Walt se hulp was nie, sou die opruiming nie gedoen kon word nie,” het Vryheidsfront Plus (VF Plus) wyksraadslid Marita Louw aan Die Pos gesê.

Volgens haar het sy Van der Walt genader vir hulp nadat sy die krisis met die dorp se nuwe burgemeester, Sechele Sebolai, bespreek het. Van der Walt het ’n laaigraaf en groot vragmotor met ’n tipbak gratis aangebied om die terrein skoon te maak.

Die laaigraaf het by die brug op die Roedtan-pad begin om die groot hoop rommel bymekaar te stoot wat daarna op die vragmotor gelaai en weggery is na die stortingsterrein buite die dorp. Verskeie munisipale werkers, raadslede, gemeenskapslede en werkers van die Community Work Programme (CWP) het hand bygesit om die vullis op te ruim.

Volgens Louw is daar onlangs ’n amptenaar aangestel om die munisipale verordeninge teen onwettige stortings toe te pas en die munisipaliteit sal waarskuwingsborde oprig en oortreders vervolg. Volgens dié verordeninge kan oortreders ’n stewige boete opgelê word.

Louw het namens die inwoners almal bedank wat ’n bydrae gelewer het om die opruiming ’n sukses te maak.

“Saam is die gemeenskap sterker,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button