Municipal

Andries verruil die pen vir politiek

Andries van der Heyde is op Woensdag 26 Julie as nuwe raadslid in die Bela-Bela-munisipaliteit ingehuldig.

Andries was tien jaar lank Die Pos se verslaggewer in Bela-Bela, maar het nou besluit om die pen vir die politiek te verruil.

Hy is op Woensdag 26 Julie as nuwe raadslid ingesweer. Dit volg nadat daar ’n vakature in die raad ontstaan het ná die dood van DA-raadslid Johan Mills.

Die DA het voornemende kandidate kort ná Mills se dood genader waarna hulle vir formele onderhoude voor ’n paneel moes verskyn. Andries is daarna as suksesvolle kandidaat aangewys.

“My vrou het verjaar op die dag dat ek die brief ontvang het dat ek die suksesvolle kandidaat is. Ek word elke oggend sedertdien opgewonde wakker, maar ook met ’n gesonde mate van angstigheid, want ek sal uiteindelik sien wat daar werklik in die munisipale aangaan,” vertel hy.

Andries het op die plaas Boschhoek in die Loubad-omgewing buite Modimolle grootgeword en het sy skoolloopbane by Laerskool en Hoërskool Nylstroom voltooi.

Hy het ná skool by ’n Bybelskool aangesluit en ook ’n diploma in joernalistiek by Varsity College in Pretoria verwerf. Hy het in 2013 by Die Pos as verslaggewer ingeval.

Hy is in 2014 getroud met Nicolene en hulle het twee dogtertjies.

“Ek dink ná 10 jaar as joernalis het ek ’n goeie idee wat in die dorp aangaan en hoe om met mense te werk. Inligting en my afhanklikheid van mense is vir my van onskatbare waarde,” vertel hy.

“Ek voel werklik nie bang vir die pad vorentoe nie, al verwag ek uitdagings en doodloopstrate. Ek verwag sukses. Ek is van nature stil en praat wanneer ek moet, maar mense moet weet ek is ’n lewendige bandopnemer en is geneig om inligting outomaties te stoor. Nie almal sal saamstem met wat ek verteenwoordig nie, maar ek weet ek het baie om te bied. Ek is in Modimolle gebore, maar ek woon in Bela-Bela en sal graag wil sien dat die dorp verbeter.”

Sy planne vir die toekoms as raadslid is om vertroud te raak met die binnewerke van die munisipaliteit, om die dorp se behoeftes te prioritiseer, oplossings vir basiese dienslewering te soek, om die DA se visie vir beter regering uit te voer, te onderhandel vir proaktiewe oplossings en om uit te staan as ’n betroubare raadslid.

“Niks is verlore nie, want eintlik soek almal dieselfde ding — vrede en vooruitgang. Die ANC het hul kans vir bykans 30 jaar gehad en het skande oor die land en ons dorp ge-
bring. As die opposisie is dit my werk om hulle op die regte pad te wys of dit beter as hulle te doen. As die Here wil, dra ek daartoe by dat ons kinders ’n beter toekoms kan kry.”

  • ’n Vakature ontstaan gevolglik in Die Pos se nuusafdeling. Sien bladsye 10 vir advertensie.

Related Articles

Back to top button