Municipal

Kragopwekkers uiteindelik hier — maar wat nou?

Inwoners van Bela-Bela juig nadat die beloofde kragopwekkers wat die dorp se waterinfrastruktuur tydens kragonderbrekings aan die gang moet hou, uiteindelik op Donderdag 18 Mei afgelewer is.

Dié aflewering kom presies een jaar, drie weke en twee dae nadat Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, tydens die 2022-2023 begrotingsvergadering beloof het dat die dorp kragopwekkers sal kry.

Inwoners het ’n uitgerekte en frustrerende stryd gevoer met watertekorte weens beurtkrag en foutiewe infrastruktuur. Dit is ongelukkig nie heeltemal seker of die nuwe kragopwekkers die dorp se waterprobleme heeltemal sal oplos nie.

Volgens raadsdokumente is daar in November 2022 vir agt hoëkapasiteit kragopwekkers (150Kva) getender en ’n begroting van R8 559 335,97 is geoormerk vir die projek.

Aan die einde van Maart 2023 is daar reeds R742 027 van die geallokeerde bedrag bestee om onder meer platforms by die onderskeie infrastruktuurpunte te bou waar die kragopwekkers geïnstalleer moet word.

Seleka het tydens die dorp se begrotingsvergadering in April gesê die munisipaliteit sal hul hande diep in hul sakke moet steek om vir die brandstof te betaal wat die kragopwekkers sal gebruik.

Dit blyk uit raadsdokumente dat dié geld vanuit die munisipale vlootbegroting gebruik sal word.

Die dorp ervaar tans drie keer per dag beurtkrag wat elke keer tussen twee tot vier ure duur. Dit sal die munisipaliteit teen die huidige brandstofpryse dus na raming bykans R6 150 per dag per kragopwekker kos.

Raadsdokumente lui voorts dat die munisipaliteit tot op datum 65% van hul R4,8 miljoen-brandstofbegroting gebruik het vir voertuie, masjiene, bestaande kragopwekkers en hidrouliese olie.

Die raad sal voortaan die ritjoernale (logbook) van elke raadsvoertuig streng moniteer en onnodige ritte beperk. Hulle beoog om die maandelikse brandstofbegroting tot onder R300 000 te beperk, lui die dokument.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, sê daar is lank geveg om die kragopwekkers aan te skaf en dit het vrugte afgewerp.

Hy het egter sy kommer gedeel dat daar ernstige tekorte kan ontstaan indien die kragopwekker-projek se lopende koste nie deeglik bestuur word en nougesette oorsig toegepas word nie.

Hy het vroeër aan Die Pos gesê indien die infrastruktuur by die watersuiweringsaanleg nie aandag kry nie, sal die kragopwekkers min of geen impak hê nie. Hy sê die aanleg moet teen maksimum volume water kan suiwer om in die aanvraag te voldoen.

Die munisipaliteit het verlede week bykomende stappe geneem om substasies te beveilig deur diefwering aan te bring.

Related Articles

Back to top button