Municipal

Meer tyd gegee om agterstallige skuld te betaal

Bela-Bela-inwoners wat versuim het om hul munisipale rekeninge te betaal, is bykomende tyd gegun om die agterstallige skuld te vereffen.

Inwoners sal tot Vrydag 30 Junie tyd hê om steeds in aanmerking te kom vir 50%-korting op die uitstaande bedrag.

Volgens ’n munisipale kennisgewing kom inwoners wat tussen November 2021 en Junie 2022 nie betaal het nie, in aanmerking hiervoor.

Die munisipaliteit se doel is om die las op inwoners te verlig en hul databasisse op te dateer.

Die voorwaarde is dat inwoners die 50% uitstaande skuld ten volle vereffen.

“Om skuld af te skryf is ’n eeuoue sakebeginsel, maar dit word onder streng voorwaardes gedoen,” verduidelik Dewald Eksteen, Wyk 1-komiteelid oor finansies. “Munisipale ondersoeke moet daarop dui dat geld glad nie invorderbaar is nie (soos wanneer die belastingbetaler gesterf het). Die beginsel kan in kort saamgevat word as: goeie geld word aangewend om slegte skuld te vorder.”

Dit is vir Eksteen kommerwekkend dat die munisipaliteit egter gereeld skuld wil afskryf.

“Die debiteure neem nie meer die munisipaliteit ernstig op nie omdat sekere inwoners tot twee jaar lank versuim om te betaal en dan wag vir die vergunning om die helfte van hul skuld af te skryf. Dit demotiveer mense wat gereeld betaal. Hulle trek aan die kortste ent indien hulle hul rekeninge stiptelik vereffen soos die wet bepaal.”

Eksteen voer aan dat die munisipaliteit min pogings aanwend om invordering te verbeter en kwytskeldingsprosesse misbruik sodat hul finansies rooskleuriger kan voorkom.

“Oor die lang termyn bring dit mee dat tariewe (vir diegene wat wel betaal) buitensporig hoog raak en die nie-betalers word in werklikheid gesubsidieer. Die munisipaliteit moet die gereelde betalers inlig wat die voordele daarvan is om so baie geld af te skryf.”

“Raadslede wat slegs hul stem in die raad laat tel sodat die kwytskeldingsbeleid kan intree, is vir die verkeerde redes daar en behoort nie in die raad te dien nie,” sê Eksteen.

Related Articles

Back to top button