Municipal

Beloftes, en nogmaals BELOFTES!

“Ons voorstel is dat inwoners die hele Bela-Bela-begroting (2023-2024 boekjaar) verwerp sodat die begroting terugverwys word en ’n geloofwaardige begroting vir die dorp opgestel word.”

Só het Dewald Eksteen, lid van die Wyk 1-komitee, op Maandag 24 April tydens die tweedelaaste begrotingsvoorleggingvergadering van die munisipaliteit by Laerskool Warmbad aan inwoners gesê.

Indien die munisipaliteit hul sin kry, sal inwoners vanaf Julie meer vir krag, water, sanitasie, erfbelasting, asook vir dienste betaal. Daar word beoog om waterheffings met 5,9%, sanitasie met 5,3%, erfbelasting met 2,5% en dienste met ongeveer 5,3% te verhoog.

Bejaardes en hulpbehoewende inwoners sal weer vergunnings op hul erfbelasting ontvang.

Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester.
Jeedee Cloete, VF Plus-raads-lid vir Wyk 1.

Hoewel krag bes moontlik aansienlik sal styg, wag die munisipaliteit op die hofuitspraak tussen die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsassosiasie (Salga) en die nasionale energie-reguleerder (Nersa) wat moontlik in Mei afgehandel sal word, het Gloria Seleka, burgemeester, tydens die vergadering gesê.

Salga daag Nersa in die hof uit en sê dat die 18,49%-verhoging wat hulle vir Eskom-krag toegestaan het, ongrondwetlik is.

Indien Salga se aansoek nie slaag nie, sal Bela-Bela-inwoners vanaf 1 Julie R2,38 per krageenheid betaal teenoor die huidige R2,21.

Die gehoor het Maandag tydens die vergadering min vrae gehad nadat lede van die Wyk 1-komitee die begroting in detail deurgewerk en bespreek het. Komiteelede het direkte vrae aan die amptenare gevra wat die vergadering bygewoon het.

Eksteen het gesê hoewel die munisipaliteit se invordering vir dienste gelewer stabiel is, word die beoogde algehele inkomste vir die 2023-2024-boekjaar sterk betwyfel.

“Daar is te veel vakante poste in die munisipaliteit, hul verantwoordelikhede teenoor krediteure bly styg, daar is geen voorsiening gemaak vir die verlies van krag of water nie en dit is onseker waar en hoe presies die operasionele- en instandhoudingsbegroting bestee sal word,” het hy gesê.

“Ons het geen inligting bekom dat daar enige voorsiening gemaak is om parke en begraafplase in stand te hou nie. Dit is soos die ouditeur generaal (OG) gesê het oor die vorige boekjaar: dit is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.”

George Ramagaga, munisipale bestuurder, het bevestig dat die munisipaliteit op ’n surplus van R9,4 miljoen werk, maar daar is tans geen geld uit die vorige termyn beskikbaar om munisipale projekte uit eie fondse te betaal nie.

“Die rede vir die gebrek aan kontant is weens Eskom en Magalies Water se skuld wat opgehoop het. Ons sal probeer om hierdie rekeninge teen vroeg volgende jaar af te betaal en dan sal ons bykomende fondse hê,” het Ramagaga gesê.

Eksteen is bekommerd dat die munisipaliteit steeds beoog om uitgawes aan te gaan waarvoor hulle nie ’n inkomste kan verseker nie.

“Die huidige kragprobleme is ’n groot nagmerrie vir die dorp en vir ’n toeris is een slaggat dalk een te veel, maar dit sal binnekort iets van die verlede wees,” het Seleka beloof.

Die goeie nuus wat gedeel is, is dat die Limpopo-padagentskap (RAL) na verwagting op Dinsdag 25 April slaggate in die dorp gaan herstel. Munisipale werkers sal RAL bystaan en terselfdertyd indiensopleiding kry om slaggate korrek te herstel, het Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid vir Wyk 1, gesê.

Voorts skuld die munisipaliteit geen geld aan die departement van verkeer nie. Hul het reeds die R10 miljoen skuld aan dié departement gedelg. Dit sal ’n positiewe effek op diensle-
wering by die verkeersafdeling hê, het Cloete gesê.

Die langverwagte kragopwekkers om die watersuiweringswerke tydens beurtkrag aan die gang te hou, sal waarskynlik einde April by die aanlegte wees, het Seleka belowe. Bykomende opgraderings aan die aanleg sal eers in die 2024-2025-boekjaar plaasvind, aldus die begrotingsdokument.

Verder sal enigeen wat onwettig vullis in die dorp stort, ’n boete van R1 756 ontvang.

“Vanaand se vergadering beteken nie dat ons finale besluite geneem het nie. Mense moet hul raadslid kontak en enige kommentaar aanstuur. Die begroting word eers in Mei na die provinsiale tesourie gestuur en teen Junie finaal goedgekeur. Ons mag ingevolge wetgewing nie ’n ongeloofwaardige begroting indien nie,” het Ramagaga gesê.

Enige kommentaar op die begroting kan per e-pos aan die Wyk 1-komitee gestuur word by Wyk1klagtes@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button