Municipal

Modimolle se planne op die tafel

Inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het die afgelope tyd die vergaderings waar die geïntegreerde ontwikkelingsplan, oftewel die GOP, bespreek word, bygewoon.

Hierdie vyfjaarplan van die munisipaliteit gee inwoners insae in die beplanning wat gedoen word vir die munisipaliteit se ontwikkeling. Die plan word jaarliks hersien en is gekoppel aan die munisipaliteit se begroting.

Tydens die vergadering vir Wyk 11 en 12 in Modimolle wat op Vrydagmiddag 14 April by die OR Tambo-saal gehou is, was daar slegs agt pensioentrekkers teenwoordig. In van die ander wyke het die bywoningstal gewissel van tientalle tot meer as ’n honderd inwoners wat die vergaderings in hul wyke bygewoon het.

Die vergadering is gelei deur die burgemeester Marlene van Staden en die twee wyksraadslede, Wiets Botes en Mokgadi Dayimani, asook ander amptenare.

Een van die punte wat Van Staden bespreek het, was die verhogings van die koste van die dienste wat die munisipaliteit lewer. Volgens die dokument moet die munisipaliteit die kostes verhaal om die dienste te kan lewer. Die voorgestelde verhogings is as volg: elektrisiteit (18,65%), water (45%), riool (60%) en vullis (35%).

Die begroting en GOP is aanlyn beskikbaar of kan by die munisipaliteit verkry word. Inwoners het tot Sondag 30 April om kommentaar te lewer.

Gedurende die vergadering is daar na die vordering van die munisipaliteit se groot projekte gekyk.

In Phagameng is die installasie van verskeie hoëmasligte aan die gang of reeds voltooi. Die Limpopo-laagwaterbrugprojek is ook voltooi.

Die sirkelroete in Phagameng Uitbreiding 10 is reeds 90% geplavei terwyl die hoofpad in die uitbreiding halfpad voltooi is. Die rehabilitasie van die ou stortingsterrein is volgens die GOP-dokumente 57% voltooi. Die projek staan op hierdie stadium stil tot die nuwe terrein in werking is. Die beplanning is om ’n park te vestig nadat die ou stortingsterrein gesluit is. Vordering by die ontwikkeling van die sportgeriewe in Leseding, Vaalwater, is sowat 91%.

Verskeie projekte het tot stilstand gekom. Werk aan die hoofrioollyn in Alma staan stil nadat die kontrakteur se kontrak opgeskort is. Die tenderproses is reeds weer aan die gang. Die werk aan die watertoevoer in Modimolle en Vaalwater staan ook vir eers stil.

Die ontwikkeling van die nuwe stortingsterrein kan eers voortgaan wanneer die munisipalitetit ’n kompakteerder aangeskaf het. Hierdie proses is reeds aan die gang.

Hierdie projekte is uit die munisipale infrastruktuurtoelaag befonds.

Projekte wat aangepak word uit die toelae vir waterdienste, sluit in die opknapping van die waterwerke in Mookgophong wat bykans halfpad is. Daar is ook ’n aantal projekte aan die gang om die rioolprobleme in onder meer die omgewing van die Buiteklub en Jasnia-woonstelle op te los.

Volgens Van Staden is die proses om 7 000 nuwe watermeters aan te skaf vir eers gestaak omdat die munisipale skuldverligtingprogram vereis dat slimmeters geïnstalleer word. Hulle wil eers verdere besonderhede inwin voordat hulle dalk onnodige aankope doen.

Die munisipaliteit sal ook kragopwekkers aanskaf wat slegs gebruik sal word vir die verskaffing van water.

’n Bedrag van R19 miljoen is goedgekeur vir die opknapping van die waterwerke by Donkerpoortdam. Volgens Van Staden sal daar gekyk word na die toestand van die damwal, die moontlikheid om die wal te verhoog, die vervanging van waterpype en ’n bykomende reservoir in Gholfstraat.

Related Articles

Back to top button