Municipal

Oudit ‘redelik’, maar kommerwekkend

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het ’n gekwalifiseerde uitslag van die ouditeur-generaal (OG) ontvang vir sy state vir die 2021/22-boekjaar.

Die OG het bevind dat die munisipaliteit se finansiële state “redelik” daar uitsien, maar ’n aantal sake word in die verslag uitgelig. Die munisipaliteit het die afgelope paar jare ’n gekwalifiseerde ouditverslag ontvang.

“Ons is baie teleurgesteld dat ons nie ’n skoon ouditverslag ontvang het nie. Ons fokus op die plekke waar ons regstellings moet maak,” het Marlene van Staden, burgemeester, gesê. “Ons het egter vir die eerste keer ’n ongekwalifiseerde oudit-mening vir ons bestuur van personeel se prestasie ontvang, waaroor ons baie bly is.”

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het die verslag in ’n mediaverklaring as onrusbarend en ontstellend beskryf.

“Elke paragraaf spreek van onbekwaamheid, gebrekkige inligting, ontoereikende stelsels vir rekordhouding en uiterste ondeursigtigheid. Onbetroubare stelsels om rekordhouding te doen, onvolledige bateregisters, gebrekkige bewyse en finansiële bedrae wat nie ooreenkom nie, is enkele probleme wat genoem word,” het die party in hul verklaring gesê.

Van Staden sê sy verskil van die VF Plus se mening.

“Baie van die punte wat in die verslag uitgelig word, handel oor regs-, wetgewings- of interne beleidsprosesse. Die OG verwys na die uitslag as “redelik” en die woorde “korrupsie” word nêrens genoem nie. Daar is egter sake wat aandag kort,” het sy gesê.

“Ons was nog altyd eerlik daaroor dat die munisipaliteit finansieel in die knyp is en dat ons uitgawes ons inkomste oorskry. Die praktiese gevolg daarvan is dat die munisipaliteit nie kontantvloei het nie en daar diensleweringsprobleme is soos byvoorbeeld die onmiddellike herstel van slaggate,” het sy gesê.

Een van die punte op die OG se verslag is die elektrisiteitsverliese wat R42 763 428 beloop en 16% van die totale aangekoopte elektrisiteit behels. (Dit is teenoor verlede jaar se 18%). Groot waterverliese is ook gely en beloop R32 840 566, sowat 40% van alle water wat aangekoop is. Dit is ’n skerp toename op die vorige jaar se 11%. Die redes hiervoor is volgens die OG diefstal, die onwettige gepeuter aan watermeters en tegniese verliese weens gebrekkige instandhouding.

Die grootste hoeveelheid van die onreëlmatige uitgawes (R127 594 928) is luidens die verslag veroorsaak deur die verlenging van kontrakte langer as die aanbevole tyd en dat prosedures vir mededingende verskaffingskettings nie gevolg is nie.

“Onreëlmatige uitgawes sluit enige aankope in waar die volledige prosesse nie gevolg is nie. Die munisipaliteit het onder meer mini-substasies gehad wat dringend vervang moes word, soos by die AS Salaam-woonbuurt. Die volledige proses neem etlike weke en ons kon nie bekostig dat sakelui en inwoners so lank sonder elektrisiteit is nie. Hierdie probleme het bykans deur die bank voorgekom met elektriese toerusting, transformators en boorgate,” het Van Staden gesê.

Die verslag het getoon dat daar noemenswaardige verskille is tussen die meterlesingsverslae en faktuurverslae. Volgens die verslag kon R17 559 089 meer ingesamel geword het. Van Staden sê die munisipaliteit het van geskatte meterlesings gebruik gemaak, pleks daarvan dat elke meter gelees is.

“Inwoners kan help deur hul ware verbruik aan ons te stuur.”

Sy het gesê dat die munisipaliteit besig is om 7 000 voorafbetaalde en “slim” watermeters aan te koop, wat die probleem sal ondervang.

Wat onreëlmatighede betref het Van Staden gesê dat vier amptenare hieroor geskors is.

“Die raad was verlede jaar reeds bewus van amptenare wat betrokke was by verdagte transaksies. Dit is onmiddellik verwys na die munisipale komitee vir openbare rekeninge (MPAC). ’n Dissiplinêre proses volg ná die skorsings. Die komiteelede verteenwoordig al die partye in die raad en word ondersteun deur bevoegde amptenare. Nadat die komitee die saak oorweeg het, sal hulle ’n aanbeveling aan die raad maak,” het sy gesê.

“Die OG-verslag noem by ’n aantal punte dat hy nie in staat is om sekere inligting te bepaal nie. In van die gevalle verwys dit na interne prosesse wat moet verbeter sodat die dokumentasie volledig is,” het Van Staden gesê.

Die OG het ook vrae gehad oor van die eiendomme op die munisipaliteit se bateregister. Volgens Van Staden verwys dit na HOP-huise wat reeds aan die inwoners behoort, maar nog nie deur die provinsiale departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) oorgedra is aan die eienaars nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button