Municipal

Laagwaterbrug ná ’n dekade voltooi

Die laagwaterbrug in Limpopostraat, Modimolle, is ná tien jaar se werk uiteindelik voltooi.

25Die brug is vandeesweek amptelik in gebruik geneem.

Die stinkende groen dam water het plek gemaak vir ’n wye brug met poele weerskante waar kinders sit en visvang. Die nuwe teerpad wat oor die brug loop, gee motoriste maklike toegang tot ’n deel van die dorp wat moeiliker bereikbaar was weens die Klein Nylrivier wat daar deurvloei met min brûe om dit oor te steek.

Die brug is al jare lank ’n frustrasie en seeroog vir die gemeenskap. Van die eerste kontrakteurs wat in 2010 aangestel is, het verdwyn nadat hulle betaal is, maar nooit die werk voltooi nie.

Voortslepende hofsake het die projek jare lank tot ’n stilstand gedwing.

Dit is hoe die Limpopo-laagwaterbrug in Modimolle in Februarie 2021 daar uitgesien het.
Die nuwe brug bied gemaklike toegang tussen Joe Slovo- en Van Riebeeckstrate.

“Toe die munisipaliteit in 2016 saamgesmelt het, is die Limpopo-laevlakbrugprojek van die voormalige Modimolle as ’n onvoltooide munisipale infrastruktuurprojek geërf,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, gesê.

Die hofsake het vyf jaar geneem en baie hoë regskostes het opgehoop.

Die munisipaliteit het weer die nasionale tesourie genader wat die oorspronklike projek deur die munisipale infrastruktuurtoelaag (MIG) befonds het, het Van Staden gesê.

Die maatskappy Dithou Construction is in Junie 2021 aangestel. Ná jare se gewag kon die projek binne 18 maande afgehandel word. Die projek het die volgende ingesluit:
professionele ingenieursdienste, siviele werke, die konstruksie van die brug (die bestaande werk moes oorgedoen word omdat die struktuur nie op standaard was nie). Die padtekens, veiligheidsrelings, nuwe straatligte met energiebesparende gloeilampe en ’n nuwe teeroppervlakte van 280 m is in Limpopostraat aangebring.

Om die vloei van die Nylrivier te verseker is aanpassings gedoen. Die koste van die projek word op R13,2 miljoen beraam.

Krappie Botes, een van die gemeenskap se skakelbeamptes, was baie beïndruk met die werk wat gedoen is.

“Die kontrakteurs het moeite gedoen en was baie deeglik,” het hy gesê.

Neels Pretorius, VF Plus-raadslid, het gesê hulle is baie bly dat die projek nou ná baie samesprekings en geduld voltooi is. Inwoners slaak ’n sug van verligting met die voltooiing van die laagwaterbrug.

Related Articles

Back to top button