Municipal

Nuwe munisipale bestuurder gesels met Modimolle-sakelui

“Moenie tou opgooi met ons nie. Ons is besig om van die vrot appels ontslae te raak.” — Ben Thobela

Is daar tekens van groen lote ná jare van droewige munisipale bestuur?

Sakelui in Modimolle en Bela-Bela het tydens die Waterberg-sakekamer se byeenkoms by die Koro Creek-gholflandgoed op Woensdag 15 Februarie kennis gemaak met die nuwe munisipale bestuurder in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, Ben Thobela.

Thobela, wat as siviele ingenieur gekwalifiseer is, het kortliks sy loopbaan-ervaring by verskeie munisipaliteite gedeel en lede verseker dat dienslewering vir hom ’n topprioriteit is. Sy spesialisveld is paaie.

“Ek dien reeds 40 jaar lank gemeenskappe. Ek het geen twyfel nie dat hierdie dorp sal kwyn sonder sy sakelui,” het hy gesê.

Thobela, wat sedert 1 September verlede jaar in sy pos aangestel is, het ook vertel dat hy en sy kollegas toegewyd is om die gesig van die munisipaliteit te verander. Hy het gesê dit is duidelik uit sy gesprekke op provinsiale en nasionale vlak in die regering dat daar al hoe meer vertroue in die munisipaliteit se vermoë is.

“Daar is daadwerklike planne om ’n ommekeer in die dorp teweeg te bring. Ons konsentreer nou op ons krediteure wat sowat R1,2 miljard is. Die grootste daarvan is Eskom, Magalies Water en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Dit is ons prioriteit om hulle eerste te betaal. Ons is ook streng met die invordering van ons debiteure. Wanneer ons kontantvloei verbeter, kan ons beter presteer. Dit is belangrik dat beleggers sekerheid sal hê dat ons betroubare dienste in die dorp kan lewer, anders sal hulle nie hul geld hier belê nie. Die dorp het ook ’n hoë werkloosheidsyfer wat ons moet aanspreek.”

Sedert Thobela se aanstelling is daar reeds sewe amptenare geskors weens beweerde bedrog. Sakelui het tydens die vergadering te kenne gegee dat hulle reeds tekens van verbeterde dienslewering kan sien.

“Modimolle is ideaal geleë vir verdere ontwikkeling. Dit is een van die redes hoekom ek hierdie pos aanvaar het — ek glo hier is baie potensiaal,” het Thobela gesê.

Hy het genoem dat die padagentskap, Sanral, onderneem het om die pad tussen die tolhek en dorp na ’n dubbelbaan te verbreed.

“Die munisipaliteit onderhandel ook met myne in Mokopane om rioolwater te koop. Ons praat met groot ondernemings in Mogalakwena om te hoor wat hulle benodig wat ons hier kan vervaardig. Ons is baie nader as Pretoria en Johannesburg.”

Volgens Thobela is die oorskakeling na sonkrag belangrik sodat ondernemings onafhanklik van Eskom sake kan doen en die munisipaliteit kan hier help deur die goedkeuringsproses te bespoedig. Daar word ook gekyk daarna om weer die dorp se vliegveld in werking te stel.

“Moenie tou opgooi met ons nie. Ons is besig om van die vrot appels ontslae te raak,” het hy afgesluit.

Gerhardt Breytenbach, voorsitter van die sakekamer, het gesê lede sien ’n daadwerklike verbetering in die administrasie sedert Thobela se aanstelling.

  • Wiets Botes, DA-raadlid en lid van die sakekamer, het gepraat oor vordering met planne vir die beoogde privaat hospitaal in Modimolle.’n Lisensie vir ’n 120-bed hospitaal is onlangs aan Botes en ’n groep sakelui in Modimolle toegestaan.

“Sedert die nuus in die koerant verskyn het, het belangstellendes wat betrokke wil raak ons gekontak. Ons wil so vinnig moontlik vordering maak, aangesien die lisensie-voorwaardes ons 18 maande gee om ons planne in plek te kry. “Hoewel 10% van die land se bevolking in Limpopo woon, is hier slegs 2% van die gesondheidsorg. Ons inwoners se naaste hospitaal in geval van nood, is Montana hospitaal in Pretoria of Medi Clinic in Polokwane,” het hy gesê.

Hoewel daar na geskikte persele vir die hospitaal gekyk word, sal die bedryfsentiteit die finale sê hê oor die ligging. Planne vir ’n oogkliniek in Modimolle vorder ook flink met bouwerk wat eersdaags begin.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button