Municipal

Kommentaar gesoek oor munisipaliteit se dienslewering

Bela-Bela-inwoners sal hulself die volgende twee maande moet staal wanneer die dorp se nuwe begroting aan die publiek bekendgemaak word.

Inwoners word reeds aangeraai om kommentaar te lewer op die munisipaliteit se 2021-2022-jaarverslag wat verlede jaar se vordering en uitdagings aandui.

In dié dokument, wat Die Pos onder oë gehad het, word die aantal werknemers in elke munisipale afdeling wat verantwoordelik is vir dienslewering aangedui.

In die water en sanitasie-afdeling is daar 104 werkers. Altesame 32 werkers is verantwoordelik vir die kragvoorsiening en 32 vir instandhouding, gevolg deur paaie en stormwaterstelsels (20), stads- en streeksbeplanning (vyf) en plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling (drie).

Uit die totale 634 goedgekeurde munisipale poste was daar teen Junie 2022 slegs 336 poste gevul, toon die verslag.

Volgens die munisipale raadsvergaderingverslag wat op Maandag 30 Januarie aan die publiek bekendgemaak is, het die munisipaliteit 60 amptelike voertuie wat amptenare gebruik in die uitvoering van hul pligte.

Volgens JeeDee Cloete, Vryheidsfront Plus-raadslid van wyk 1, is van hierdie voertuie buite werking of onpadwaardig.

Die verslag maak voorts melding dat die totale brandstofkoste aan die einde van Desember meer as R2 miljoen beloop het, wat 73% van die totale brandstofbegroting vir die 2022-2023 boekjaar is.

Luidens die verslag is daar teen einde Desember reeds ongeveer R3,8 miljoen op instandhouding van die dorp bestee. Die totale salarisrekening van munisipale personeel en amptenare het einde Desember R13,3 miljoen beloop.

Die 2021-2022 jaarverslag kan op die munisipale webtuiste (www.belabela.gov.za) bestudeer word.

Kliek die skakel Documents, dan Legislation en soek op die nuwe blad vir Reports (Draft Annual Report 2021/2022).

Kommentaar kan per e-pos gestuur word aan Public.comments@belabela.gov.za(.)

Related Articles

Back to top button