Municipal

Eskomskuld steeds ’n tameletjie

Die nimmereindigende stygende skuldlas van munisipaliteite landswyd wek groot kommer.

Dit is een van die faktore wat daartoe bydrae dat groter entiteite soos Eskom en die land se waterrade nie doeltreffende dienste kan lewer nie.

Landswye munisipale skuld aan Eskom het in 2022 bykans R50 miljard beloop met die Vrystaat as die grootste wanbetaler. Limpopo se skuld aan die kragverskaffer beloop R1 062 095 447.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, was die munisipaliteit se skuld einde Desember aan Eskom R838 miljoen.

“Ons het gedurende die laaste vyf en ’n half maande bykans R99 772 717,72 aan Eskom oorbetaal. Die munisipaliteit was nog altyd eerlik oor sy groot skuldlas aan Eskom en dat ons ’n betalingsooreenkoms het om die skuld te vereffen. Ons het nie soveel betaal as wat Eskom wou hê nie, maar ek dink byna R100 000 000 was ’n goeie poging,” het sy gesê.

“Dit sal die munisipaliteit nog minstens 10 jaar neem om hierdie skuld te delg indien ons geen bykomende bystand van nasionale tesourie of ’n hofbevel ontvang nie.”

Volgens Van Staden betaal die munisipaliteit elke Vrydag ’n bedrag aan Eskom oor.

Die munisipaliteit se totale uitstaande debiteure beloop tans R890 miljoen met staatsinstellings wat R48,3 miljoen skuld, sakeondernemings R145 miljoen en huishoudings R697 miljoen se skuld. Daar word reeds strenger teen diegene wat nie betaal nie opgetree, met ondernemings en huishoudings se krag wat weekliks afgesny word.

Sy het inwoners aangemoedig om hul rekeninge te vereffen.

“Inwoners moet onthou dat hulle nie net hul elektrisiteitsrekening moet betaal nie, maar ook vir dienste soos riool, vullisverwydering en eiendomsbelasting,” het Van Staden gesê.

Einde 2019 het die munisipale skuld aan Eskom R400 miljoen beloop.

Related Articles

Back to top button