Municipal

Ernstige vrae oor dorp se krag- en watervoorsiening

Die DA in Bela-Bela het tydens die eerste amptelike raadsvergadering van die jaar op Maandag 30 Januarie indringende vrae gevra oor verskeie munisipale aangeleenthede wat belas- tingbetalers die harnas in jaag.

Johan Mills, DA-raadslid, het kapsie gemaak teen die kragheffings wat vir Tuin Tuiste-aftreeoord en Renaissance-aftreeoord gehef word.

Tuintuiste en Renaissance word volgens hom op industriële kragheffings aangeslaan weens ’n ekstra transformator wat agt jaar gelede geïnstalleer is en die inwoners van krag voorsien.

Hy is ook van mening dat die plaaslike Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se kragverbruik in die landbouheffing-kategorie aangeslaan word.

Eienaars wat industriële heffings betaal, dok op vir ’n basiese eenheid, ’n kapasiteitseenheid en ’n Rand per kWh-eenheid. By residensiële heffings word daar slegs vir kragverbruik betaal. Hy eis dat die inwoners op residensiële heffings aangeslaan moet word. Die regstel van die klassifikasie van die onderskeie eiendomme rus volgens hom op die munisipaliteit se skouers.

“Ek het wyd navraag gedoen en kon nêrens ’n enkele ontwikkeling vind wat industriële tariewe betaal nie. By baie van die ontwikkelings woon daar munisipale amptenare en hulle betaal vir normale kragvoorsiening. Dit wil voorkom asof die munisipaliteit teen ouer persone en afgetredenes diskrimineer,” het hy gesê.

“Die afgetredenes, asook dié by die SAVF, word onnodig belas omdat die klassifikasie van eiendom foutief is. Ons navrae aan die owerheid is vrugteloos en word met arrogansie begroet.”

Hy eis dat die munisipaliteit die eienaars vergoed vir die jare dat hulle verkeerdelik aangeslaan is.

Die tweede klagte wat Mills geopper het, was die gebrek aan watermeters in Pienaarsrivier, Masakhane, Vingerkraal, Rapotokwane en Tsakane.

“Dit is onregverdig dat belastingbetalers van die dorp vir ander mense se waterverbruik moet betaal,” het hy gesê.

Volgens die mosie wat ter tafel gelê is, ontvang Pienaarsrivier direkte watertoevoer vanaf die Magalies Waterraad teen ’n koste van R358 000 per maand. Pienaarsrivier val onder die Bela-Bela-munisipaliteit.

Mills voer aan dat hierdie “gratis” water die munisipaliteit met ongeveer R12 miljoen se verlies aan inkomste laat.

“Die munisipaliteit word slegs betaal vir 31% van die water wat hulle voorsien,” het hy gesê.

Mills het gesê dit is uiters onregverdig dat verdere druk op belastingbetalers geplaas word om op te maak vir verliese aan watermeters.”

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê Mills het geldige punte op die vergadering ingedien.

Gloria Seleka, Bela-Bela-burgmeester, het in reaksie gesê die klagtes sal ondersoek word en indien nodig gevind, sal regstellings gemaak word.

Moloto het gesê daar is nie ’n spertyd gekoppel aan die afhandeling van die ondersoek nie, maar hy hoop dit sal “gou” wees.

Related Articles

Back to top button