Municipal

Inwoners verheug oor nuwe Bronne-pad

Die opgradering en instandhouding van die laaste gedeelte van die provinsiale pad (R520) tussen Mookgophong en die Olifant-vulstasie sal eersdaags voltooi wees.

Volgens Wyk 5 se raadslid, Marita Louw, sal die kontrakteur wat die werk namens die padagentskap van Limpopo (RAL) doen, ook verantwoordelik wees vir die pad se instandhouding vir ’n jaar nadat dit voltooi is.

Sedert 1 Maart tot September 2022 kon net 5,2 km van die pad voltooi word omdat die projekplan aangepas is weens ekstra koste van die teerlaag. Die rekonstruksie van die skouer van die 9,6 km pad is reeds tydens die eerste fase van die projek voltooi.

Volgens Shadrack Rakosa, die ingenieur van Ralema Consulting Engineers wat deur RAL aangestel is om die opgradering te doen, word daar beplan om die laaste ongeveer 4,6 km se ryvlak met ’n 30 mm-teermengsel te vervang asook ’n 200 mm dreineringslaag. Hulle sal ook met die toestemming van die departement van bosbou, sekere bome langs die roete snoei en waar nodig die stormwaterslote herstel of vervang. Die pad sal ook volgens wetgewing gemerk word.

Padgebruikers word gewaarsku om steeds versigtig te bestuur aangesien die padverleggings gevaarlik kan wees.

Indien daar nie onvoorsiene vertragings is nie, behoort die projek teen April vanjaar afgehandel te wees.

Intussen het boere en inwoners ook aan die werk gespring en drie dae lank met tien werkers die 130 slaggate oor die afstand van 4,5 km op die Constantia-pad, gevul.

“Baie dankie aan elkeen wat so onbaatsugtig help om die paaie in stand te hou,” het Louw gesê.

Louw het versoek dat inwoners met besware of insette vir haar e-pos stuur na marita.louw@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button