Municipal

Gemeenskap vat hande om probleme op te los

Die gemeenskap en eienaars van sakeondernemings van Mookgophong het die afgelope tyd gewys dat as mense saamstaan, kan probleme in die dorp opgelos word.

Marita Louw, VF Plus-raadslid van Wyk 5 in die dorp, het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor elkeen wat help om die paaie skoon te maak, gesteelde kabels te vervang en slaggate te vul.

“Ek wil graag almal bedank wat daagliks ’n bydrae maak tot voordeel van Mookgophong se gemeenskap. Ek is dankbaar dat die gemeenskap hande vat in tye van nood om mekaar te ondersteun. ’n Sterk gemeenskap verseker ’n dorp se vooruitgang,” het Louw gesê.

Daar is gedurende Desember 13 sake van koperdiefstal aangemeld. Die kabel wat in die Rondalia-omgewing gesteel is, het volgens Louw byna R50 000 gekos om te herstel. Die munisipale bestuurder, Ben Thobela, het R50 000 uit sy eie sak betaal om die lyn te herstel. Dit was nood en werk moes gedoen word aangesien hierdie lyn elektrisiteit voorsien aan die pompe van die Frikkie Geyser-dam en watersuiweringstelsel.

Gemeenskapslede het die kontrakteur bygestaan om te grawe. Hulle het ook groot ligte verskaf om die werk te vergemaklik en gereeld koue koeldrank gebring. Die morele ondersteuning het die werkers versterk en hulle het die taak met ywer voltooi.

Die Suid-Afrikaanse padagentskap (Sanral) het ook die sloot in Eerstelaan saam met munisipale werkers skoon gemaak. Die sloot het maklike skuiling vir kabeldiewe gebied.

Related Articles

Back to top button