Municipal

Watertekort bly ’n kopseer

Die Bela-Bela-munisipaliteit het sedert verlede week waterbeperkings in die dorp ingestel met die doel om die dorp se reservoirvlakke te verbeter en sodoende genoeg water te hê om aan inwoners se behoeftes te voorsien.

Eskom se voortdurende beurtkrag, foutiewe infrastruktuur, instandhouding wat agterweë gebly het, die gebrek aan kragopwekkers en die groter aanvraag na huishoudelike water weens die versengende hitte dra by tot die waterkrisis. Dit is ook die oorsaak dat reservoirvlakke nie gestabiliseer het nie, meen amptenare.

Selfs nadat die munisipaliteit inwoners begin versoek het om uiters spaarsamig met die water te werk, is daar steeds mense wat tuine natlei, sê amptenare.

Die Pos verneem daar is tans geen boetestelsel in plek vir inwoners wat nie gehoor gee aan die pleidooi van die munisipaliteit nie. Dit is egter in almal se belang dat inwoners nou saamstaan en water spaar.

Beurtkrag sal in die toekoms steeds ’n invloed op watervoorsiening hê. Daar is egter alternatiewe planne om bykomende water na die reservoirs te pomp.

Talle inwoners het die afgelope naweek watertenks en van hul eie boorgatwater aan van die inwoners beskikbaar gestel.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid van Wyk 1, het gesê daar is vordering om korttermynoplossings in plek te kry soos om bestaande hoëkapasiteitkragopwekkers na die suiwe-
ringsaanleg te skuif, maar dit het die afgelope week agterweë gebly weens tegniese probleme.

“Die aanvanklike plan om kragopwekkers met regeringsgeld vir die suiweringsaanleg te koop, sal waarskynlik eers in Mei realiseer. Die boorgate wat vir jare buite werking was, word opgegradeer deur privaat maatskappye en munisipale tegnici”

“Alle rolspelers sal moet saamwerk sodat dié krisis opgelos kan word,” het hy gesê.

Cloete het gesê daar is genoeg water in die dorp se opvangsgebied beskikbaar, asook van die Magalies-waterraad, maar meganismes om die water na die inwoners te kry, is by sekere van die munisipale infrastruktuur nie voldoende nie.

Inwoners is egter nie tevrede met die stadige vordering nie en deel daagliks hul misnoeë op sosiale media platforms.

Die vraag wat die meeste geopper word is: “Hoekom moet ons maandeliks betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie weens gebrekkige bestuur of nalatigheid?”

“Dit is juis waarom inwoners Vrydag 27 Januarie se gemeenskapsvergadering by El Rancho Grande in Roodepoort buite die dorp moet bywoon en hul probleme daar lug.”

Cloete het inwoners genooi hul klagtes op skrif saam te bring en te kom luister na die planne vir die dorp.

Related Articles

Back to top button