Municipal

Land se eerste swart VF Plus-raadslid ingehuldig

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se eerste swart raadslid, Manicks Mpunwana, is op Donderdag 22 Desember amptelik by die Bela-Bela munisipale raad ingehuldig tydens ’n interne seremonie by die munisipaliteit.

Mpunwana is as proporsionele raadslid aangewys nadat die VF Plus geseëvier het in die Wyk 1-tussenverkiesing in November 2022 waarna JeeDee Cloete as die nuwe VF Plus-wyksraadslid verkies is.

Die wyk het vir jare aan die DA behoort.

Die tussenverkiesing is gehou nadat Tinus Ras, DA-raadslid, in Julie weens gesondheidsredes as raadslid bedank het.

Mpunwana het by navraag gesê daar rus ’n groot taak op die party se skouers om die dorp reg te ruk.

“Ek werk reeds baie goed saam met die gemeenskap en probeer om elke munisipale uitdaging wat oor my pad kom, aan te spreek. Ek het tot nou goeie samewerking by die munisipale administrasie gekry met navrae oor diensleweringsprobleme.”

Mpunwana sê die dorp en township-omgewing se grootste uitdaging is steeds voldoende krag- en watervoorsiening.

“Dit is sake wat die munisipaliteit vanjaar moet prioritiseer. Daar is tans te min gekwalifiseerde munisipale tegnici beskikbaar om elke probleem reg te stel. Daar is ook talle bekwame tegnici in die munisipaliteit wat op aftree-ouderdom is en in die loop van die jaar die diens sal verlaat. Die munisipaliteit sal meer poste beskikbaar moet maak om daardie leemte te vul.”

Mpunwana sê hy sien daarna uit om die gemeenskap op verskeie vlakke te verteenwoordig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button