Municipal

Kersfees vroeg vir agterstallige belastingbetalers

Die Bela-Bela-munisipaliteit het verlede week bekendgemaak dat belastingbetalers wat agterstallige munisipale rekeninge het, ’n 50%-korting op uitstaande skuld sal ontvang.

Luidens die verklaring wat op Vrydag 9 Desember uitgereik is, is die vergunning vir skuld wat voor Junie 2022 aangegaan en steeds uitstaande is.

Slegs 50% word afgeskryf en die res is steeds betaalbaar.

Luidens die verklaring sal dié stap die munisipaliteit die geleentheid gee om hul finansiële state op datum te bring en hul beleid aangaande slegte skuld uit te voer.

Die vergunningstydperk is van Vrydag 9 Desember tot Woensdag 5 April 2023.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het die vergunningstydperk verwelkom.

“Ek stem daarmee saam dat daar talle inwoners en sakeondernemings is wat steeds die newe-effekte van die Covid-19-pandemie op ekonomiese gebied ervaar. Mense in al die wyke van die dorp sal hierby baat,” het hy gesê.

“Dié stap moet egter met omsigtigheid bestuur word, anders kan dit veroorsaak dat die munisipaliteit se skuldlas vergroot,” het hy gesê.

Hy het gesê hy is bewus daarvan dat daar sekere mense is wat herhaaldelik agterstallig raak met betalings en wie se skuld tydens elke vergunningstydperk verminder word. Hy het gesê daar sal ondersoek ingestel word hieroor.

Die munisipaliteit nooi intussen inwoners om die rekeninge-afdeling by die munisipaliteit tydens kantoorure te besoek en vir die vergunning aansoek te doen. (Advertensie op bl. 4.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button