Municipal

Plakkate moet af!

Inwoners van Bela-Bela is verontwaardig omdat verkiesingsplakkate van sekere partye wat op Woensdag 16 November aan die tussenverkiesing in Wyk 1 deelgeneem het, nog teen die lamppale pryk.

Hoewel plakkate volgens wet net vir ’n voorafbepaalde tyd aangebring mag word, word daar nie by die wet gehou nie. Inwoners mor dat die plakkate verniel en ’n swak indruk skep vir besoekers wat die dorp besoek.

Volgens inwoners is veral die ANC skuldig aan dié wanpraktyk.

Die Pos het navrae aan die betrokke ANC kandidaat, Bianca Moco, asook die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), gerig. Moco het nie op die navrae gereageer nie.

Volgens ’n OVK-verteenwoordiger beskik die Bela-Bela-munisipaliteit oor wettige verordeninge en kan stappe geneem word teen die betrokke party om die plakkate te verwyder.

Die bestaande verordeninge dui daarop dat plakkate binne drie tot sewe dae ná die betrokke geleentheid verwyder moet word. Mense wat die wet verontagsaam kan beboet word.

Die OVK-verteenwoordiger het gesê hulle sal die saak verder ondersoek.

Related Articles

Back to top button