Municipal

Beurtkrag en donderweer laat Bela-Bela in die donker

Bela-Bela se kragprobleme is op Saterdag 3 Desember op die spits gedryf nadat ’n erge donderstorm tydens die geskeduleerde beurtkrag losgebars het.

Die brandweer is uitgeroep nadat die weerlig palmbome in Swanepoelstraat en Huilboslaan getref en dit begin brand het.

“Ons was nie tuis nie, maar ons bure het wonderbaarlik ingespring en die palmboom in ons erf gehelp blus,” het Jousie Velthuysen, wat in Huilboslaan woon, aan Die Pos gesê.
“Daar was weens die beurtkrag geen water nie, maar die bure kon ’n kragopwekker aanskakel en die brand met boorgatwater blus. Ons is gelukkig dat die enigste skade ’n vuil erf en ’n dik laag brandreste in die swembad is.”

’n Boom het ook die naweek in Jinnah Park op ’n kraglyn geval.

Inwoners in verskeie dele van die dorp moes vinnig reageer om brandskade te vermy, nadat die weerlig verskeie palmbome aan die brand geslaan het.

Tegnici van die munisipaliteit het vasgestel dat daar baie meer skade op verskeie plekke in die dorp aangerig is en moes die hulp van Valley de Souza, ’n kontrakteur van die dorp, inroep.

“Helpers het tydens die herstelwerk van substasie na substasie gery om potensiële probleme te soek en uit te skakel. Die oomblik toe die kragnetwerk weer aangeskakel is ná die beurtkrag, het iets vermoedelik fout gegaan met die oorskakelingsproses.

“Die gevolg was dat ’n paar tegniese komponente by die substasies ontplof het,” het JeeDee Cloete, VF Plus-raadslid,” aan Die Pos gesê.

Boonop het diewe die substasies in die dae vooraf geteiken en komponente gesteel.

’n Vermeende kabeldief is verlede Saterdag op heterdaad betrap binne-in een van Bela-Bela se substasies.

Terwyl tegnici Saterdag besig was om herstelwerk te doen, het hulle ’n verdagte op heterdaad betrap.

“ Amptenare het tydens beurtkrag Saterdag by ’n substasie in die dorp opdaag en ’n verdagte aangetref. Hy was glo besig om kragkabels te stroop,” het Cloete gesê.

Munisipale amptenare het die verdagte in terme van die wysigingswet op kriminele aangeleenthede aangekla.

Die Bela-Bela-polisie het op Maandag 5 Desember ’n ondersoekverslag gereed gehad om die verdagte in die Bela-Bela-landdroshof te laat verhoor.

Dié wysigingswet is ingestel sodat swaarder strawwe opgelê kan word aan oortreders wat infrastruktuur beskadig.

Munisipale tegnici het tydens hul herstelwerk by verskeie substasies gevind dat kragkomponente gevandaliseer of gesteel is.

Lt.kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, het in reaksie gesê die verdagte word met vorige oortredings verbind en het ook al vroeë tronkstraf uitgedien weens diefstal.

Daar was teen druktyd nog geen aanduiding of die beskuldigde wel in die hof verskyn het nie.

Die grootste gedeeltes van die dorp se kragtoevoer is teen Sondagaand herstel.

Dele in Ludorfstraat, Jinnah Park en die Noodhulp-hoewes se kragtoevoer is eers op Dinsdag 6 Desember herstel.

“Die munisipaliteit behoort binne ’n dag lynfoute te herstel, maar dit is onmoontlik omdat hulle tans een hyskraan het wat by die meeste herstelwerk gebruik word. Daar is ’n enorme leemte wat betref die munisipale vloot wat tot gevolg het dat daar nie genoeg voertuie is om instandhoudingswerk te doen nie,” het Cloete gesê.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het gesê topamptenare het Maandag vergader om die substasies en kragpunte beter te beveilig.

“Daar is samesprekings oor die dorp se uitdagings. Die munisipaliteit sal meer gereeld met die wykskomitees vergader. Substasies in afgeleë omgewings veroorsaak probleme omdat daar nie veiligheid is om dit deurgaans te moniteer nie,” het hy gesê.

Cloete sê die pad vorentoe is om ’n formele versoek aan die munisipale- en tegniese bestuurders te rig om die munisipaliteit se instandhoudings- en operasionele plan beskikbaar te stel.

“Ons sal in hulle verslag kan sien waar werklike tekortkominge is, want daar is onder meer ’n enorme gaping tussen die departementshoofde, werkers en werklading,” het hy gesê.
“Indien ons versoek nie toegestaan word nie, sal ons ’n aansoek in terme van die wet op toegang tot inligting (PAIA) rig. As hulle nie daarop reageer nie, sal ons ons tot die hof wend.”

Related Articles

Back to top button