Municipal

Opruiming van stortingsterrein begin

Dit is al maande dat inwoners van Mookgophong kla oor die haglike toestand van die stortingsterrein in dié dorp.

Dieselfde terrein op Dinsdag 29 November nadat twee trekker-laaigrawe reeds vordering gemaak het met die opruiming.

Die vullis is tot in die grondpad wat na die dorp lei gegooi. Inwoners het by verskeie geleenthede die owerheid genader en ’n beroep gedoen dat hulle moet ingryp om die toestand te verbeter.

“Ons is bly om aan te kondig dat die departement van sosiale dienste van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ’n splinternuwe trekkerlaaigraaf (TLB) van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake as ’n skenking ontvang het,” het Marlene van Staden, burgemeester, op Vrydag 18 November in ’n mediaverklaring gesê.

Volgens haar is dit ’n gespesialiseerde afvaldienstevoertuig wat sal help met die skoonmaak van onwettige stortingsterreine en gebruik sal word om die wettige stortingsterrein op te ruim. Die skenking is gedoen in samewerking met die Waterberg-distriksmunisipaliteit se departement gesondheidsdienste en Zakes Namate en Nozi Molteno van die nasionale departement van omgewingsake.

Volgens VF Plus-wyksraadslid Marita Louw het nog ’n masjien van ’n kontrakteur op Maandag 28 November by die stortingsterrein begin om die gemors op te ruim. “Die terrein is egter in so ’n haglike toestand dat dit maande sal neem om die plek te rehabiliteer. Die betrokke departement se begroting is veels te min om die gebied volgens die wetlike vereistes te rehabiliteer. Ons is egter baie dankbaar dat daar wel ’n poging aangewend word,” het Louw aan Die Pos gesê.

’n Span werkers het ook op Woensdag 23 November begin met die opruiming van onwettige hope rommel en vullis in Uitbreiding 9 in Phomolong, Mookgophong.
Inwoners, wat anoniem wou bly, is dankbaar oor die vordering wat gemaak is, maar bly skepties wonder of die opruiming volhoubaar is.

Related Articles

Back to top button