Municipal

Parkie netjies ná inwoners moue oprol

Inwoners van Modimolle wat in die omgewing van Boshoffstraat (in Wyk 12) woon, ry daagliks verby die openbare parkie op die hoek van Boshoff- en Buffalostraat.

Hoewel die plaaslike munisipaliteit veronderstel is om die gras gereeld te sny en die park te onderhou, het dit die afgelope tyd erg verwaarloos. Volgens inwoners is die betonbankies en tafels lankal gebreek en nooit vervang nie. Dit is veral oor naweke wanneer besoekers daar piekniek hou en braai wanneer rommelgemors net so agtergelaat word.

Talle inwoners het nou ingespring om saam met Aksie Opknap, ’n gemeenskapsgroep in Modimolle, ’n daadwerklike verskil in hul omgewing te maak. Jannie Buys, pastoor van die Koinonia-kerk wat grens aan die park, het aan Die Pos vertel dat hy vooraf met die plaaslike munispaliteit reëlings getref het sodat hul trekkergrassnyer die gras op Dinsdag 22 November kon sny.

Nog ’n inwoner, Derrick Rabie, het ook die betrokke dag kom help om die park skoon te maak saam met ’n groep werkers van die Community Working Programme (CWP).

Rabie werk die afgelope twee jaar saam met Aksie Opknap om die dorp skoon te maak en te verfraai. Hy het onder meer die middelman langs die R101-deurpad vanaf Hans Campherrylaan (by die afdraaipad na Bosveldsig), verby Hoërskool Nylstroom tot by die verkeerslig by Laerskool Nylstroom, “aangeneem”. Hy sny gereeld die gras daar met sy eie toerusting en gebruik ook van sy werkers om skoon te maak.

Wiets Botes, DA-raadslid van Wyk 12, het verduidelik dat die CWP-werkers deel is van die regering se werkers wat in alle wyke ontplooi word om strate te vee, sypaadjies skoon te hou en algemene werk te verrig.

Die doel van die program is om soveel moontlik mense in diens te neem sodat meer mense die geleentheid kry om ’n inkomste te verdien, eerder as om net op ’n maatskaplike toelae staat te maak. Hierdie werkers verdien ’n minimumdagloon en werk slegs twee dae (16 ure) per week.

“Dis die eerste keer dat CWP-werkers ook in Wyk 12 aangestel is. Daar is tans 17 werkers wat vir verskillende take aangewend word,” het Botes gesê.

Erna Human van Aksie Opknap het haar dankbaarheid teenoor elke inwoner wat betrokke is by hierdie skoonmaak- en mooimaakprojekte, uitgespreek. Soos hul leuse lui: Saam is ons sterker!

Related Articles

Back to top button