Municipal

Talle inwoners boos oor waardasierol-foute

Die onlangse beslissing van die hooggeregshof in Pretoria oor die tersydestelling van ’n aanvullende waardasierol vir onbeboude erwe in die luukse Lombardy-landgoed (Pretoria), gaan die Tshwane-munisipaliteit etlike miljoene uit die sak jaag.

Hierdie hofgeding, wat sedert 2011 sloer, het nou die deur geopen vir talle ander grondeienaars om munisipaliteite aan te vat weens soortgelyke onwettige implementering van veranderings in klassifikasie.

In die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is daar ook talle grondeienaars wat kapsie gemaak het teen die owerheid se skielike verandering van hul eiendom se sonering. Sommige eienaars het in Augustus 2021 munisipale rekenings ontvang met astronomiese verhogings in hul grondbelastingstariewe weens die nuwe klassifikasie. Sedertdien probeer hulle tevergeefs om hierdie aanpassings reg te stel.

Alan Reid, wat ’n kleinhoewe in die Sussenvale-omgewing besit, het aan Die Pos verduidelik dat die probleem oorspronklik in Desember 2019 ontstaan het nadat die plaaslike owerheid die verouderde algemene waardasierol met ’n opgedateerde een vervang het. Dit wil voorkom asof plase en kleinhoewes na willekeur gekies is waarna die waarde vertiendubbel is.

Reid en ’n groep grondeienaars met dieselfde probleem het in Januarie 2021 ’n vergadering met die burgemeester, Marlene van Staden, en die waarnemende bestuurshoof, dr. Shepherd Melusi Mhlanga, belê waarin hulle antwoorde geëis het. Hulle is van mening dat die aanpassings onregverdig gedoen is sonder om die regte prosesse en riglyne te gebruik. Die implementering van die herklassifikasie is glo ook onwettig omdat daar geen kennisgewing aan grondeienaars uitgestuur is nie. Daar is ook geen verduideliking gegee oor die omskrywing van kleinhoewes — wat geen dienste van die munisipaliteit af ontvang nie. Der halwe is die tariefstruktuur ook onduidelik.

Ander areas wat ook deur die owerheid geteiken is, is die Verloren-landgoed en Leopard’s Rock tussen Modimolle en Bela-Bela.

Die owerheid het met die aanvang van die 2021/2022-boekjaar op 1 Julie 2021 ’n aanvullende waardasierol geïmplementeer. Hierdie nuwe waardasies het weer astronomiese verhogings ingehou vir sekere grondeienaars omdat die klassifikasie verander is.

’n Wildboer in die Grootfontein-omgewing, wat anoniem wil bly, het aan Die Pos vertel dat hulle wildplaas se klassifikasie in 2019 van landbou na residensieel verander is met ’n baie hoër tarief.

Die klassifikasie is intussen terug verander, maar die tarief is nooit aangepas nie. Die nuutste terugvoer wat hulle vanaf die munisipaliteit ontvang het, is dat dit voortaan as ’n besigheid (met die heel hoogste tarief) geklassifiseer gaan word.

Volgens Gerhardt Breytenbach van Breytenbach Keulders-prokureursfirma in Modimolle, het die plaaslike owerheid nie die vereiste proses ingevolge Artikel 49 (1)( c) gevolg om grondeienaars in kennis te stel van hierdie aanpassings nie.

Daarmee saam het die munisipaliteit ook nie hul eiendomsbelastingbeleid (property rates policy) aangepas om die definisie van onder meer kleinhoewes, wildplase en eko-toerisme-eiendomme duidelik uiteen te sit nie.

“Hoewel hierdie soort eiendom in die owerheid se begroting aangedui word met die ooreenstemmende tariewe is die beleid nooit aangepas nie en word die tariewe nie daarvolgens gehef nie,” het Breytenbach gesê.

Die munisipaliteit se tariewe vir die 2021/2022- asook 2022/2023-boekjaar, wat op hul webwerf beskikbaar is, wys presies dieselfde eiendomsbelasting tarief vir landbou, wildsplase en kleinhoewes.

Volgens al die eienaars wat beswaar gemaak het, is dit egter nie die tariewe waarvoor hul maandeliks aangeslaan word nie.

Volgens die munisipale verteenwoordiger is die meeste besware oor verhoogde waardes van eiendomme reeds opgelos. Die probleem lê egter by die omskrywings van kategorieë in die munisipale eiendomsbelastingwet (Municipal property rates act, 2004) wat slegs met ’n tweederdemeerderheid stem in die parlement reggestel kan word. Tot dan bly wildplase, eko-toerisme eiendomme en kleinhoewes ’n knelpunt.

Related Articles

Back to top button