Municipal

VF Plus oorbrug grense met eerste swart raadslid

"Ek gaan my uiterste bes doen om die gemeenskap met respek en deernis te behandel." — Manicks Mpunwana, VF Plus-proporsionele raadslid in Bela-Bela.

Wyk 1, wat 12 jaar lank onder die Demokratiese Alliansie (DA) se bestuur was, is in ’n verrassende wending deur die Vryheidsfront Plus (VF Plus) verower. Jeedee Cloete, wat die proporsionele raadslid vir die VF Plus was, het die DA oortuigend uit die kussings gelig.

Boonop het die VF Plus geskiedenis gemaak deur die eerste swart raadslid, Manicks Mpunwana (49), aan te stel as proporsionele raadslid in die Bela-Bela-munisipaliteit.

Kiesers meen dat hy en Cloete ’n gedugte span sal wees en vertrou dat hulle die gebrekkige dienslewering sal aanspreek en die dorp se belange sal bevorder.

“Die regerende party kan net geroer word deur ’n sterk opposisie en daarom moet mense hul ondersteuning by die stembus wys. Die VF Plus het homself as ’n party bewys wat dinge kan laat gebeur. Hulle spring self in,” het Mpunwana gesê.

Hy sê dat Cloete ’n goeie indruk op hom gemaak het toe hulle vir die eerste keer ontmoet het. Hy was beïndruk deur Cloete se deeglike netwerk en die vertroue van die inwoners.

“Cloete is soos my broer en ek kan hom as die volgende burgemeester sien. Nou dat ek gekies is, gaan ek my werk bedank en my uiterste bes doen om die gemeenskap met respek en deernis te behandel.”

Mpunwana werk die afgelope vyf jaar in die hardewarebedryf in Hammanskraal. Hy woon egter in Bela-Bela en pendel daagliks.

“My pa, Elias, het 46 jaar lank vir die Bela-Bela-munisipaliteit gewerk. Hy moedig my aan en dra my. Hy is ’n groot inspirasie. My seun en dogter was in die wolke toe ek hulle vertel ek gaan ’n raadslid word.”

Hy was tydens Die Pos se gesprek uitgesproke oor nepotisme, korrupsie en verval, wat volgens hom sinoniem met die ANC-regering is.

“In die Bela-Bela-township is daar honderde huishoudings wat tot vandag toe geen water of krag het nie nadat soveel beloftes sedert 1994 aan hulle gemaak is. Die verkwiste geld, wat aangewend moes word om hierdie probleme op te los, het in sekere kaders se sakke beland. Ek blameer die ANC vir alles wat tot vandag skeefgeloop het. Dit is ongelukkig so dat hulle kiesers, wat jare lank op beter dae gehoop het, geen alternatiewe party gehad het wat vir hulle daadwerklik kon optree nie.”

Die feit dat minder mense by die stembus aanmeld, is ’n weerspieëling van kiesers wat vertroue verloor het, meen hy.

Selfs in die Wyk 1-tussenverkiesing het daar slegs 1 500 uit ’n moontlike 3 800 geregistreerde kiesers gaan stem.

“Om vertroue terug te wen moet inwoners goeie diens kry, want dit is waarvoor hulle belasting betaal. Ons sal vertroue inboesem indien ons dit, in samewerking met bereidwillige amptenare, kan doen.

Hy voeg by: “Ons gaan ondersoek instel wanneer verskonings gemaak word dat daar nie meer geld is vir toerusting of hulpmiddels om basiese dienste te lewer nie.

“Die munisipaliteit is reeds in twee gedeel deur ’n groep amptenare wat eers wil kyk hoeveel finansiële voordeel hulle kan trek uit ’n projek voordat die werk aangepak word. Dit is hoekom ’n tender geadverteer word vir R50 000 en later vind ’n mens uit die projek het R150 000 gekos. Dit is onaanvaarbaar.”

Volgens Mpunwana voorspel hy dat kiesers wat vertroue in die ANC verloor het, hulle in die toekoms na die VF Plus sal wend.

Mpunwana wag nog om sy amptelike opleiding te ontvang wat hom in staat sal stel om sy pligte volgens wettige voorskrifte uit te voer. Hy sê hy is hy nie bang vir moontlike dreigemente nie.

Hy is bereid om op enige stadium in sy voertuig te klim en ’n probleem te gaan ondersoek, het hy gesê.

“Ek moet die stem word vir baie mense en ek is bereid om hard te werk in belang van die inwoners. Hy voorspel daar wag groot verrassings in die 2026-munisipale verkiesing.”

Related Articles

Back to top button