Municipal

Munisipaliteit trek skouers op oor toestand van dorp

Die Pos het op Vrydag 4 November ’n bestekopname in die strate van Bela-Bela gedoen en nie lank geneem om plekke te vind waar dienslewering geknou word deur infrastruktuur wat nie onderhou word nie.

Slaggate is in feitlike elke straat in die dorp gevind. Sommige is só diep dat motorryers eerder aankomende verkeer trotseer as om deur die slaggate te ry. Die stukkende straatligte vererger dié situasie, want motorryers kan nie saans die slaggate sien nie. Die donker strate laat ook die deur wyd oop vir misdadige bedrywighede. Verskeie voorvalle van huisbraak en betreding van privaat eiendom is aangemeld.

Verskeie lamppale is gevind met die elektriese komponente gestroop en die lewendige drade wat in wind en weer hang. Dit skep ’n ernstige gevaar vir voetgangers. Die kragsubstasies is ook in ’n haglike toestand. Die deure staan wawyd oop en sommige substasies se deure is afgebreek en is deur besorgde inwoners tydelik toegemaak deur voorwerpe teen die deure te sit om kwaaddoeners en die elemente uit te hou.

Mangate is van hul deksels gestroop en is ’n groot gevaar vir voetgangers en motorryers.

Die inligting wat versamel is tydens die opname is aan munisipale amptenare oorgedra, maar Die Pos het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

Onderaan is foto’s van probleme wat Bela-Bela-inwoners warm onder die kraag het:

Die veelbesproke Lunastraat huisves nie net sakeondernemings nie, maar is ook die dienspad wat Warmbad Rusoord-ouetehuis bedien. Die Pos het al verskeie skrywes geplaas van inwoners wat kla oor die swak toestand van dié pad. Die munisipaliteit het ook al verskeie beloftes op openbare forums gemaak dat dié pad hoë prioriteit sal geniet op hul instandhoudingsprogram. Daar het egter die afgelope jaar nog min verander.
Daar is ontelbaar baie straatligte in die dorp wat van hul komponente gestroop is.
Munisipale tegnici het vroeër aan hierdie kragpunt op die hoek van Van der Merwe- en Corckeryweg gewerk. Die sakelui van drie aangrensende sakepersele het aan Die Pos gesê dat hulle reeds ’n maand sonder krag is omdat die werk nie voltooi is nie.
Inwoners kla al geruime tyd dat munisipale tegnici slote en gate grawe om foute op te spoor en te herstel en dan die omgedolwe terrein vir maande net so te laat. Op dié foto is so ’n gat wat reeds maande gelede gegrawe is.
Hierdie mangat in Chris Haniweg staan al weke oop. Die munisipaliteit het slegs ’n waarskuwingsbord opgerig en nie die probleem herstel nie.
Die toestand van hierdie lamppaal oorkant die SAVF-saal in Mentzlaan is in die afgelope twee jaar al verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld, maar is tot op datum nog nie herstel nie.
Die toegangsroetes na skole in die dorp het dringend aandag nodig. Quaggaweg word daagliks deur minibustaxi’s en motorryers gebruik om leerders by die skole op- en af te laai. Die padoppervlakte het dringende instandhouding nodig.
Die plaveisel op die hoek van Chris Haniweg en Corckerystraat is nie meer diensbaar nie. Die geel versperring, wat veronderstel is om inwoners te waarsku oor die gevaar, het self al beter dae geken.
Inwoners van Bela-Bela sê dit is net ’n wonderwerk dat daar nog geen voertuig in die mangat op die hoek van Grobler- en Moffatstraat beland het nie.

Related Articles

Back to top button