Municipal

Daar is water, maar dis nie in die krane

Bela-Bela se inwoners se kele, krane, toilette en tuine is vir lang tye sonder ’n druppel water en net toe ’n mens dink fase 6 beurtkrag is iets van die verlede, laat weet die munisipaliteit waterbeperkings word ingestel.

Inwoners was hoopvol dat die dorp se reservoirs daagliks vol genoeg gepomp kan word om in die aanvraag te voorsien toe die beurtkrag van fase 6 na fase 3 oorskakel. Dit was van korte duur, want op Maandag 10 Oktober — so op Paul Kruger se verjaardag — stuur die munisipaliteit ’n kennisgewing dat nuwe waterbeperkings ingestel word.

Watertoevoer sou, soos in die weke vooraf, vanaf die reservoirs op sekere tye na die dorp gesuit word sodat reservoirvlakke ten minste bo 40% styg — wat ’n veilige kapasiteit is om aan die dorp te voorsien.

“Om die vlakke te balanseer tussen die waterbronne, die suiweringswerke, na die reservoirs en na die dorp, bly egter ’n uitdaging,” het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, gesê.

“Ons het in hierdie stadium ’n volle vier dae nodig om die reservoirs op normale vlakke te bring, maar mense bly water gebruik. Die vakansietydperk het die aanvraag vergroot.”

Hy sê daar is genoeg water om aan die dorp se inwoners te voorsien, maar dat die werklike probleem by die aanlegte lê.

“Al ons infrastruktuur is afhanklik van elektrisiteit. As beurtkrag intree, staan alles stil. Dit veroorsaak dat die suiweringswerke, wanneer die krag weer aangeskakel word, meer as twee ure neem om die rou water te suiwer waarna dit na die reservoirs en na die dorp gepomp word.”

Volgens hom is gerugte dat Magalies Waterraad tans die primêre verskaffer van water is, onwaar is.

“Dit is egter so dat hulle deesdae ’n vermindere hoeveelheid water aan ons dorp verskaf, soos aan die ander munisipaliteite waaraan voorsien word. Die reservoir in die Bela-Bela-township word slegs deur Magalies gevoed wat probleme vir daardie inwoners veroorsaak.”

Die oplossing rakende die aankoop van hoëkapasiteitkragopwekkers om die aanlegte aan die gang te hou tydens kragonderbrekings, is nog in die pyplyn. Moloto sê die munisipaliteit sal hopelik teen November die nodige magtiging en die regeringstoelaagfondse hê om dit te koop.

“Daar is tans geen waterbeperkings deur die munisipaliteit ingestel nie. Geen boetes sal aan mense uitgereik word wat water misbruik nie. Ek herhaal dat ons dorp geen tekort aan water het nie. Dit is ’n pompstasie-probleem weens Eskom-beurtkrag.”

Die munisipaliteit versoek inwoners om spaarsamig met die water te werk en nie voertuie of tuine met tuinslange nat te spuit nie.

Mense word ook gevra om hul toilette minder te spoel en om hul skottelgoedwassers of wasmasjiene net te gebruik as dit werklik nodig is.

  •  Hoewel Eskom die afgelope naweek beurtkrag in die land opgeskort het, het fase 3 teen druktyd weer ingetree.

Related Articles

Back to top button