Municipal

Werkers terug om brug te voltooi

Die dispuut tussen die plaaslike owerheid en die konstruksiemaatskappy wat die nuwe laagwaterbrug en toegangspad in Limpopostraat in Modimolle bou is uiteindelik middel September opgelos.

Die kontrakteur met ’n volle span werkers was op Maandag 19 September weer terug op die perseel sodat die nuwe gedeelte van Limpopostraat, wat aansluit by Joe Slovostraat, voltooi kan word.

Karel Komape, die kontrakteur se projekbestuurder, het Maandag aan Die Pos verduidelik dat die werk aan die brug reeds voorheen voltooi is. Daar word nou gepoog om die installering van ondergrondse dreineringspype te voltooi waarna hulle die bykans 200 m teerpad sal bou.

Komape het gesê ’n handjievol werkers was reeds die vorige week op die perseel om die rioolwater wat sedertdien weer by die brug se basis opgedam het, uit te pomp. Die res van die perseel is ook in gereedheid gebring vir die ontvang van materiaal.

Thinus en Krappie Botes het aan Die Pos vertel dat die kontrakteur op Vrydag 16 September die riooldam wat langs die bouperseel is, reg voor die Jasnia-woonstelle, oopgegrawe en met grond bedek het. “Al die inwoners is opreg dankbaar vir die kontrakteur se hulp. Met die somerhitte was die verstikkende reuk ondraaglik in ons huise,” het hulle gesê.

Volgens die oorspronklike projekplan sou die brug op die laatste in Junie voltooi word. Die einddatum is nou aangepas tot einde November. Die kontrakteur voer aan dat talle faktore, wat aan die plaaslike owerheid gekommunikeer is, hul genoodsaak het om die projektydlyn te verleng. Die kontrakteur moes glo ook bykomende uitgawes aangaan om die perseel werkbaar te maak weens die voortdurende rioolgemors wat daarheen vloei.

Marlene van Staden, burgemeester, het vroeër gesê dat Christopher Mahlaule, direkteur tegniese dienste, tydens die munisipale raadsvergadering op Woensdag 29 Junie in Modimolle verduidelik het wat aanleiding tot die dispuut gegee het. Daar is ook aangevoer dat die munisipaliteit wou wag tot die aanvang van die nuwe boekjaar (1 Julie) om die bykomende tyd en koste goed te keur. Daarmee saam moet die versoek vir afwykings deur die provinsie goedgekeur word omdat hierdie projek deur ’n munisipale infrastruktuur toelaag (MIG) befonds word.

Inwoners sien daarna uit om eersdaags die nuwe brug in gebruik te neem om die verkeersdruk in Joe Slovostraat te verlig.

Related Articles

Back to top button