Municipal

Terug na die stembus

Te midde van die beurtkrag en waterprobleme wat Bela-Bela se inwoners in die gesig staar, moet kiesers van Wyk 1 boonop binnekort wéér hul kruisies by die stembus gaan trek.

Dié munisipale tussenverkiesing volg skaars ’n jaar nadat daar gestem is.

Die verkose DA-raadslid, Tinus Ras het in Julie vanjaar weens gesondheidsredes bedank. Hy het reeds na die Wes-Kaap verhuis.

Die Pos het met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig dat ’n tussenverkiesing op Woensdag 16 November gehou sal word.

Volgens ’n OVK-woordvoerder sal die registrasienaweek op Saterdag en Sondag 1 en 2 Oktober by verskeie stempunte in die dorp plaasvind.

Dit sluit in die stempunte by Laerskool Warmbad in Moffatstraat, die NG Moedergemeente in Mentzlaan, asook Peet se Padstal op die Thabazimbi-pad buite die dorp (R516-pad).

Slegs kiesers wat in Wyk 1 woon mag aan die verkiesing deelneem.

Inwoners wat van adres verander het, moet hul inligting tydens die registrasienaweek opdateer.

“Die partye het nog nie hul amptelike kandidate bekendgestel nie. Daar is nog tyd vir hulle en ook vir onafhanklike kandidate om te registreer. Dit kan gedoen word by die OVK se kantore by die Bela-Bela-munisipaliteit. Die koste beloop R1 000 per aansoek,” het die woordvoerder gesê.

Die nominasieproses vir voornemende kandidate wat in die verkiesing vir die raadslidposissie wil staan, sal vanaf Vrydag 7 Oktober tot op Maandag 24 Oktober duur.

Ras het sedert 2016 as raadslid by die munisipaliteit gedien. Hy was skaars agt maande ná die 2021-munisipale verkiesing in die stoel voordat hy op mediese advies bedank het.

Die DA het in die 2021-verkiesing 2 631 stemme vanuit Wyk 1 ontvang (65,86%), die VF Plus 1 050 stemme (26,28%), die ANC 193 stemme (4,83%) en die EFF 52 stemme (2,48%).

Vir navrae kan mense die OVK se kantore by tel. (014) 736 8006 skakel.

Related Articles

Back to top button