Municipal

Ontstoke inwoners betoog oor water

Die R101-deurpad tussen Modimolle en Mookgophong het vroegoggend op Vrydag 16 September soos in die onlustetydperk van ouds gelyk nadat ontstoke inwoners die pad vanaf die Phagameng-waterreservoir tot verby die ingang na die Modimolle-vliegveld met brandende motorbande en boomstompe versper het.

Groot klippe en bourommel is ook in die pad gepak sodat geen voertuie vanaf omstreeks 04:00 daar kon deur ry nie.

Volgens ’n polisiewoordvoerder is amptenare om 05:00 na die toneel uitgeroep om die plofbare situasie onder beheer te bring. Die polisie het traangas en rubberkoeёls gebruik om die groep betogers uiteen te jaag.

’n Gespanne atmosfeer het geheers terwyl die polisie verseker het dat oproeriges wat tussen die sinkhuise gaan skuil het, hulle nie skuldig maak aan saakbeskadiging of brandstigting nie.

Lede van die polisie se speurdiens, VisPol en onluste beheer (POPS), het die pad skoon gemaak en al die brandende voorwerpe tot langs die pad gesleep. Hulle is bygestaan deur lede van

Mookgophong, die departement van korrektiewe dienste se onlustebeheer-eenheid, asook amptenare van die verkeersafdeling.

’n Plaaslike inwoner wat van die betoging te hore gekom het, het die vlamme geblus met sy bakkie waarop ’n watertenk geïnstalleer is sodat die verkeer weer omstreeks 07:30 kon terugkeer na normaal.

Die polisie het die situasie nog vir etlike ure daarna gemoniteer, maar geen verdere voorvalle is aangemeld nie.

Die polisiewoordvoerder het gesê dat sekere inwoners van Phagameng Uitbreiding 12, wat strek vanaf die waterreservoir (langs die R101-deurpad) tot teenaan die vullisstortingsterrein, die protesaksie geloods het.

Daar is glo reeds in 2017 begin om hierdie area onwettig te beset hoewel daar geen lopende water of sanitasie in hierdie uitbreiding is nie.

Die munisipale watertrok wat daagliks aan inwoners water voorsien, was die betrokke week ook buite werking. Inwoners was dus genoodsaak om baie ver te loop om water aan te dra.

Dit blyk dat dit die rede was wat die inwoners tot protesaksie gedryf het.

Raadslid Jack Shokane het aan Die Pos vertel dat hy met ontstoke gemeenskapsverteenwoordigers gepraat het om hul griewe te verstaan.

Shokane het glo met die burgemeester, Marlene van Staden, ooreengekom om die gemeenskap eersdaags te besoek sodat die plaaslike owerheid met daadwerklike oplossings vorendag kan kom.

Sommige inwoners van Phagameng Uitbreiding 9, wat grens aan die Modimolle-vliegveld, het ook deelgeneem aan die protesaksie.

Die munisipale woordvoerder het bevestig dat die gebied intussen as formele township geregistreer is by die provinsiale departement van samewerkende regering en menslike hulpbronne (CoGHSTA) wat verantwoordelik is vir die installering van grootmaat infrastruktuur (water en rioolpype, elektrisiteit en paaie) vir alle townships.

Die plaaslike owerheid behoort na afloop van die beoogde vergadering met die burgemeester terugvoer te kan gee oor die pad vorentoe in dié uitbreiding.

Related Articles

Back to top button