Municipal

Opgradering van pad gedeeltelik voltooi

Die opgradering en instandhouding van die provinsiale pad (R520) tussen Mookgophong-dorp en die Olifant-vulstasie is nou gedeeltelik voltooi.

“Die laaste paar kilometer is egter nog ’n uitdaging weens verskeie redes. Een hiervan is dat die bolaag só beskadig was dat ’n 300 mm bolaag pleks van die beoogde 150 mm vervang moes word. Die gevolg was dat daar dubbel soveel bogrond en teer vervang moes word en dit het die koste aansienlik laat styg,” het VF Plus-wyksraadslid, Marita Louw, gesê nadat daar op Woensdag 17 en Donderdag 18 Augustus met die betrokke partye verantwoordelik vir die pad vergader is.

Volgens Shadrack Rakosa, ingenieur van Ralema Consulting Engineers wat deur die Limpopo-padagentskap (RAL) aangestel is om die opgradering te doen. Hulle het op Dinsdag 1 Maart begin en die projek behoort op Dinsdag 13 September voltooi te wees. Daar kon egter net 5,2 km van die totale 7 km voltooi word omdat die plan aangepas moes word weens ekstra koste met die teerlaag.

Die rekonstruksie van die skouer van die pad is egter vir die volle 9,6 km tot by die Olifant-vulstasie gedoen en die slaggate oor die laaste paar kilometer is ook herstel. Rakosa het gesê die stormwaterafvoerslote is ook skoongemaak en die bruggie se boonste deel is herstel volgens die kontrak. Die nodige padtekens en verfstrepe op die pad is ook suksesvol aangebring.

“Ons is tevrede met die indiensneming van plaaslike werkers en ander sosiale aangeleenthede, maar is bekommerd oor die tegniese kant van die projek,” het Louw gesê.

Sy het ook nog nie die skriftelike terugvoer van die projekbestuurder oor haar vrae ontvang nie en het navraag gedoen oor die finansiële verslae en state.

Volgens Rakosa was padgebruikers tydens die herkonstruksie nie baie tegemoetkomend nie en het verskeie ongelukke plaasgevind omdat motorryers die spoedgrens oorskry het en nie ag geslaan het op die padwerke se waarskuwingstekens nie.

Inwoners van Die Oog en ander motorryers is baie bly oor die opgradering en sê dit is nou weer ’n plesier om die R520 te gebruik.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button