Municipal

Gemengde reaksie oor topaanstelling by Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit

Die stof het skaars gaan lê ná die tussenverkiesing van ’n nuwe wyksraadslid in Wyk 12 in Modimolle, of die volgende storm tref die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Die aanstelling van n nuwe munisipale bestuurder het tydens die raadsvergadering op Maandag 29 Augustus onder ’n wolk van ontevredenheid plaasgevind.

Nadat die DA-, EFF- en VF Plus-raadslede uit die vorige raadsvergadering, wat op Dinsdag 23 Augustus gehou is, gestap het om hul misnoeë met die ANC-raadslede se kandidaat te toon, is die vergadering uitgestel tot Maandag 29 Augustus.

Ben Ntoampe Thobela is tydens dié vergadering met ’n meerderheid van 14 stemme teenoor 10 vir die volgende vyf jaar verkies. (Die raad bestaan uit 28 raadslede met 14 setels vir die ANC, sewe setels vir die DA, vier setels vir die EFF en drie setels vir die VF Plus). Die speaker (ANC-raadslid) beskik oor ’n bykomende stem wanneer ’n besluit geneem word.

DA- en VF Plus-raadslede het aangevoer hulle is bekommerd oor Thobela se gebrek aan vorige ondervinding as munisipale bestuurder. Daar is ook vrae gevra oor Thobela se diensrekord omdat hy in 2016, kort ná die vorige munisipale verkiesing, uit sy pos as uitvoerende bestuurder van infrastruktuur by die Capricorn-distriksmunisipaliteit geskors is. Volgens inligting is Thobela en twee kollegas, ook uitvoerende bestuurders, weens beweerde wangedrag geskors.

Daarna het hy ’n betrekking by ’n ander munisipaliteit aanvaar en sedert 2020 as uitvoerende hoof van infrastruktuur van die plaaslike owerheid in Parys (Vrystaat) gewerk.

Luidens ’n mediaverklaring, wat dieselfde dag deur Marita Louw (VF Plus-wyksraadslid) uitgereik is, is die VF Plus van mening dat die enigste geskikte kandidaat vir dié pos Danger Matumane was omdat hy oor die nodige bestuursondervinding beskik. Louw meen Thobela se aanstelling is ’n “sprekende voorbeeld van kaderontplooiing” wat deurgevoer is omdat die vier EFF-raadslede buite stemming gebly het.

Die woordvoerder van die munisipaliteit het die aanstellingsproses verduidelik soos dit uiteengesit is in die regulasies. Nadat die pos vroeër vanjaar geadverteer is, was daar 12 kandidate wat die kortlys gehaal het. Die betrokke kandidate is deur die nasionale- en provinsiale departemente van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) gesif om te verseker dat hulle nie voorheen skuldig bevind is aan korrupsie of dergelike misdrywe nie.

Daarna is onderhoude met al die kandidate gevoer deur ’n paneel wat bestaan het uit vyf lede. Daar was een verteenwoordiger elk van CoGHSTA, South African Local Government Association (Salga) en Limpopo-tesourie. Marlene van Staden (burgemeester) en Aaron Sebolai (plaaslike ANC-raadslid) was die ander komiteelede.

’n Streng keuringsproses word gevolg en kandidate se kwalifikasies, kredietrekords en misdaadrekords word nagegaan. Die woordvoerder het gesê Thobela het die keuringstoets geslaag.
Kandidate word onderwerp aan ’n bevoegdheidstoets om te bepaal hoe die persoon strategiese denke gebruik om besluite te neem. Ook daar het Thobela geslaag.

Die plaaslike owerheid het die afgelope paar jaar talle skommelings in die topbestuursposte beleef, wat ’n geweldige negatiewe impak op die werking van die munisipaliteit gehad het. Samuel Bambo was die munisipale bestuurder van 2 Januarie 2014 tot sy bedanking op 31 Augustus 2017. Dit is in daardie tyd dat die Modimolle-munisipaliteit met die munisipaliteit van Mookgophong saamgesmelt het.

Sy opvolger was Ombali Phineas Sebola, voorheen munisipale bestuurder van Mookgophong, wat die pos vanaf 1 September 2017 tot 31 Maart 2018, toe sy kontrak verstryk het, beklee het. Daarna was die plaaslike owerheid in chaos gedompel en byna bankrot verklaar is.

Dr. Shepherd Melusi Mhlanga, voorheen hoof -finansiële uitvoerende beampte, is op 30 Mei 2019 as waarnemende munisipale bestuurder aangestel. Dit het ’n mate van stabiliteit gebring, maar na afloop van die munisipale verkiesing op 1 November 2021 is hy uit die kussings gelig. Die ANC-raadslede het ’n nuwe waarnemende bestuurder, Dakalo Sinthumule, verkies, maar sy het in April vanjaar bedank. Haar opvolger, Magda Berrange, het sedertdien die pos behartig terwyl die soeke na ’n permanente kandidaat aan die gang was.

Dit beteken dat die plaaslike owerheid sedert April 2018 nie ’n permanente munisipale bestuurder gehad het nie.

Marlene van Staden, burgemeester van die munisipaliteit sedert Augustus 2016, het in ’n verklaring gesê sy as voorsitter van die uitvoerende raad, sal daarop fokus om die nuwe rekenpligtige beampte (Thobela) aanspreeklik te hou vir alle besluite en werkverrigting.

“Daar moet in die belang van inwoners opgetree word,” het sy gesê. “Die munisipaliteit ervaar tans baie uitdagings en ek hoop Thobela sal veral die benarde finansiële situasie en dienslewering verbeter.”

Volgens Van Staden het die munisipale raad nog twee aanstellings in topposte gemaak. Patrick Shika is aangestel as hoof -uitvoerende beampte van korporatiewe dienste. Hy was voorheen mediawoordvoerder.

Khupa Lekala is vir drie maande as waarnemende direkteur van strategiese beplanning en plaaslike ekonomiese ontwikkeling aangestel nadat Dakalo Sinthumule vroeër vanjaar bedank het.

Van Staden het aan Die Pos gesê sy hoop die gemeenskap sal die nuwe munisipale bestuurder ondersteun sodat almal kan saamwerk om die munisipaliteit van ondergang te red.

Related Articles

Back to top button