Municipal

Laat daar tog net krag wees!

Groot gedeeltes van Modimolle was vir bykans die hele Saterdag 13 Augustus sonder elektrisiteit weens ’n fout op ’n ondergrondse hoogspanningkabel op die hoek van Collins- en Hospitaalstraat.

Die woongebied rondom Hoërskool Nylstroom (Wyk 11), asook ’n groot gedeelte vanaf Thabo Mbeki- tot by Maroelastraat en ’n gedeelte van die Bosveldsig-aftreeoord (Wyk 12) is hierdeur geraak.

Inwoners in dié omgewing moes maar tevrede wees om die naelbytrugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op hul slimfone te kyk of soos in toeka se dae oor die radio te luister.

Volgens Johan Prinsloo (raadslid) is die probleem reeds vroegoggend aangemeld waarna die munisipaliteit se tegnikus omstreeks 07:30 by die mini-substasie aan die onderpunt van Collinsstraat opgedaag het. Daar is vasgestel dat die kragonderbreking veroorsaak is deur oorlading van ’n ondergrondse hoogspanningkabel wat by ’n vorige lasplek uitgebrand het.

Die span het aan die werk gespring om die ondergrondse kabel oop te grawe. Die sloot word gewoonlik etlike meters lank uitgegrawe om te verseker dat daar nie verdere skade aan die kragkabel is nie.

Wiets Botes, wyksraadslid van Wyk 12, het aan Die Pos gesê die herstelproses het langer geneem omdat die munisipaliteit nie ’n werkende laaigraaf tot hul beskikking het om die sloot te grawe nie. Volgens Botes het die waarnemende munisipale bestuurder hom toestemming gegee om ’n privaat laaigraaf te huur sodat die werk vinniger kan vorder.

Botes het bevestig dat die tegniese span omstreeks 14:30 met die eerste lasplek aan die kragkabel begin het.

“Dit neem ongeveer drie uur om een plek op ’n kragkabel te las wat beteken die totale hersteltyd was bykans ses uur,” het hy aan Die Pos vertel.

Die munisipaliteit se werkers het hul goed van hul taak gekwyt en die kragtoevoer is omstreeks 20:30 herstel in die hele gebied.

Die Pos het by Piet du Toit, jarelange inwoner van Modimolle, gaan aanklop om die situasie te verduidelik. Du Toit is ’n kenner op die gebied en het vir bykans 25 jaar vir Eskom ge-
werk totdat hy in 1999 afgetree het en na Modimolle verhuis het.

Hy het verduidelik dat hierdie probleme hoofsaaklik weens ’n gebrek aan instandhouding van die dorp se elektriese infrastruktuur is. Daarmee saam veroorsaak beurtkrag ernstige skade aan hoogspanningskabels weens die skielike kragstuwing wat plaasvind sodra die elektriese stroom weer aangeskakel word. Gedurende die somermaande kan weerlig ook ’n kragstuwing veroorsaak wat hoogspanningskabels kan laat brand op plekke waar die isolasie mettertyd verswak het.

“Elke lasplek in die kabel verswak die drakrag daarvan,” het hy verduidelik.

“Die kragnetwerk bestaan uit kabels wat vanaf elke substasie herlei word deur ringvoerders. Hierdie ringvoerders maak dit moontlik om foute op die kabels te isoleer sodat die hele gebied nie sonder kragtoevoer moet wees wanneer ’n fout herstel word nie. Wanneer die ringvoerders en die res van die infrastruktuur nie onderhou word nie, word kragvoorsiening onderbreek vir die totale tyd wat dit neem om die kabels te herstel,” het Du Toit gesê.

Volgens Du Toit is daar vermoedelik ’n hele aantal hoogspanningskabels en ringvoerders in hierdie gedeelte van die dorp wat reeds vier jaar gelede vervang moes word.

  • In ’n aparte voorval is ’n ondergrondse kragkabel in Vaalwater, langs die Transnet-treinstasie, op Donderdag 11 Augustus beskadig. Talle huise langs die stasie was tot laat Maandag 15 Augustus nog sonder krag.

Volgens Jeran le Roux, eienaar van Mainpro (Pty) Ltd., is daar geringe skade aan die kragkabels aangerig toe hulle Donderdag besig was om die rioolblokkasie by twee septiese tenks op die perseel oop te grawe. Volgens Le Roux het hy ’n loodgieter gekry om twee nuwe tenks te installeer.

Hy het aan Die Pos vertel dat hulle besig was om die bestaande tenks op te grawe toe hulle op ’n magdom ongemerkte kabels afgekom het.

“Daar was geen aanduiding wat hierdie kragkabels is nie en in die proses is die omhulsel van die kragkabel beskadig. Ek het die hulp van ’n elektrisiën ingeroep, maar aangesien dit hoogspanningskabels is, mag slegs die plaaslike owerheid daaraan werk,” het hy gesê.

Die probleem is nog dieselfde middag by die munisipaliteit aangemeld.

Le Roux is egter in kennis gestel dat die tegniese span eers op Saterdag 13 Augustus daaraan sal kan aandag skenk. Ongelukkig moes die span inderhaas die kabelfout in Modimolle herstel en kon eers die volgende dag, Sondag 14 Augustus, in Vaalwater gaan werk.

Le Roux het vertel dat die tegniese span op Maandag 15 Augustus besig was om oorhoofse kragpale op te rig sodat krag herlei kon word vanaf die stasie na die aangrensende woonbuurt.

Die munisipaliteit het bevestig dat die kragtoevoer teen 21:30 herstel is.

Related Articles

Back to top button