Municipal

Bouterrein by Modimolle-laagwaterbrug steeds verlate

Die dispuut tussen die plaaslike owerheid en die konstruksiemaatskappy wat die nuwe laagwaterbrug en toegangspad in Limpopostraat in Modimolle bou, is steeds nie opgelos nie.

Die Pos het op Maandag 15 Augustus foto’s geneem van die bouterrein wat sedert die begin van Junie verlate is.

Volgens die munisipaliteit se oorspronklike projekplan sou die brug einde Junie voltooi gewees het. Daar is egter die afgelope twee en ’n half maande geen werkers op die perseel nie en die brug is nog nie naastenby voltooi nie.

Volgens die kontrakteur het talle faktore hul genoodsaak om die versoek aan die owerheid te rig om die projektydlyn te verleng. Die kontrakteur moes glo ook bykomende uitgawes aangaan om die perseel werkbaar te maak weens die voortdurende rioolgemors wat by die basis van die brug opdam. Dit alles het ’n negatiewe impak op die projek gehad en die konstruksie bemoeilik.

Hierdie afwyking van die oorspronklike projekplan is volgens bronne skriftelik aan die munisipaliteit gerig.

Die Pos het ’n skrywe van die kontrakteur gesien waarop die munisipaliteit op Saterdag 25 Junie in kennis gestel is dat alle werk tydelik gestaak word totdat die dispuut opgelos is.

Die kontrakteur voer voorts aan dat die uitstaande betalings ook hul kontantvloei belemmer het, wat dit onmoontlik maak om na die perseel terug te keer.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het Christopher Mahlaule, direkteur: tegniese dienste, tydens die munisipale raadsvergadering op Woensdag 29 Junie in Modimolle verduidelik wat aanleiding gegee het tot die dispuut. Daar word aangevoer dat die munisipaliteit wou wag tot die begin van die nuwe boekjaar wat op Vrydag 1 Julie in werking getree het om die ekstra tyd en koste goed te keur. Daarmee saam moet die versoek vir afwykings deur die provinsie goedgekeur word omdat hierdie projek deur ’n munisipale infrastruktuur toelaag (MIG) befonds word.

Volgens die munisipale woordvoerder het Mahlaule en die waarnemende munisipale bestuurder, Magda Berrange, saam met die betrokke administratiewe amptenare na afloop van die vergadering op 29 Junie gewerk om die nodige dokumente in orde te kry sodat die projek eersdaags kan voortgaan.

Dit is egter onduidelik waarom hierdie dispuut sedert Junie nog steeds nie opgelos is nie.

Related Articles

Back to top button