Municipal

Straatligte herstel, maar dorp bly donker

Bela-Bela se veelbewoë straatligprojek, waartydens stukkende straatligte herstel is, het nou nie juis ’n ligpuntjie op dié donker situasie gewerp nie.

Talle strate is steeds saans pikdonker omdat straatligte wat herstel is, net vir ’n paar dae in werking was.

Die projek is met ’n regeringstoelae befonds en daar is beoog om sedert April voorsiening te maak vir die herstel van 680 ligte in die dorpsgebied.

Altesame R3 miljoen is bestee om die foutiewe straatligte te vervang met ligte wat veronderstel is om energie te bespaar. Die aanvanklike begroting was R6 miljoen.

Volgens die plaaslike DA-tak het hulle ondersoek ingestel en bevind dat elke straatlig ongeveer R4 400 sal kos wat dit uiters duur maak.

Hoewel inwoners aanvanklik baie dankbaar oor die beoogde straatligprojek was, lyk dit nou asof vandalisme die projek in die wiele ry.

Lede van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het aangemeld dat straatligte wat vroeër gewerk het, nou weer donker is. Misdaad is hoër in die strate waar straatligte nie werk nie, meen die GPF.

Die munisipaliteit oorweeg dit nou om die kragkabels vanaf elke straatligpaal oorhoofs te konnekteer. Dit sal voorkom dat vandale die komponente of kragkabels op die grond kan steel of beskadig.

Daar word ook oorweeg om die kragpaalkomponente heeltemal te verwyder en die straatligte deur middel van geaarde- en oopkragstroomkabels binne-in die lamppaal te voorsien.

Die munisipaliteit het egter uitdagings met toerusting wat nie in ’n werkende toestand is nie. Hulle het ook aangedui dat daar nie genoeg bekwame elektrisiëns en projekleiers is nie en dat hulle aanhoudend gestuit word met verskaffers van die straatligkomponente wat nie voorraad het of binne die tydraamwerk die aflewe-
rings doen nie.

Die tegniese afdeling is egter positief om ten spyte van uitdagings, diensleweringsprobleme aan te spreek het die munisipale verslag gesê.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê hy sal die saak met die tegniese afdeling opneem en later die bevindinge en besluite
bekendmaak.

Related Articles

Back to top button