Municipal

Modimolle se Wyk 12 bly blou

Die stof het uiteindelik gaan lê ná ’n week van hoogte- en laagtepunte tydens die tussenverkiesing wat op Woensdag 3 Augustus in Wyk 12 in Modimolle gehou is.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die wyk behou met altesame 1 388 (68,3%) van die stemme. Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het 609 (29,7%) van die stemme verwerf terwyl die ANC heelwat steun verloor het en nou slegs 18 stemme (minder as 1%) gekry het. Die EFF het hul 17 stemme (minder as 1%) van die vorige verkiesing behou.

Wiets Botes (DA) is die nuwe raadslid wat nou by die vorige DA-raadslid, Sarna Groenewald, oorneem. Groenewald het in Mei vanjaar as raadslid bedank weens persoonlike omstandighede. Sy was sedert 2016 die wyksraadslid van Wyk 12.

Botes, ’n jarelange inwoner en sakeman van Modimolle het vanaf 1999 tot 2016 as raadslid in die Modimolle-munisipaliteit gedien (voor die samesmelting met Mookgophong). Hy was ook vir meer as vyf jaar voorsitter van die Waterberg-sakekamer en is tans voorsitter van die beheerliggaam van Hoërskool Nylstroom.

Modimolle se Wyk 12 bly DA-gebied nadat Wiets Botes die tussenverkiesing op Woensdag 3 Augustus oortuigend gewen het. Hy verbind homself tot verbeterde dienslewering en om munisipale amptenare aanspreeklik te hou.

Dit is hierdie ondervinding wat hy nou wil inspan om dienslewering te verbeter en te verseker dat munisipale amptenare en topbestuur verantwoordbaar gehou word.

Botes het aan Die Pos gesê hy is dankbaar vir elke kieser wat hul vertroue in hom en in die DA geplaas het.

“Ek besef dat talle inwoners uiters gefrustreerd is met die agteruitgang van ons dorp onder die administrasie van die huidige munisipaliteit. Ek sal vorentoe kyk en skouer aan die wiel sit om dienslewering en infrastruktuur te verbeter.”

Hy het verduidelik dat hy eerstens wil voortgaan met die basiese onderhoud van die water- en rioolinfrastruktuur. Rioolprobleme, waterlekke en gebarste pype moet so gou moontlik herstel word. Daar moet ook weggedoen word met die munisipaliteit se waterskedule sodat daar 24 uur per dag water in die krane is, het hy gesê.

Nog ’n projek wat Botes wil deurvoer is die herstel van straatligte in die woongebiede.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, ondersteun vir Marie Ferreira, ’n bejaarde inwoner, op pad na die stemlokaal by die Kokanje-aftreeoord net buite Modimolle. Talle inwoners is met behulp van motors en gholfkarretjies na die stemlokaal aangery.

Volgens Botes moet die agteruitgang van die dorpsbeplanning-afdeling ook dringend aandag kry sodat dorpsontwikkeling kan voortgaan.

“Elke nuwe ontwikkeling bring ekonomiese groei in ons dorp. Dit skep geleentheid vir werkskepping en meer inkomste aan die munisipaliteit.”

Daar word ook aan ’n langtermynplan gewerk om alternatiewe kragopwekking deur middel van sonkrag te bewerkstellig.

Mariska Greyling, die VF Plus-kandidaat wat vanjaar vir die eerste keer die politieke arena betree het, het na afloop van die verkiesing vir Botes geluk gewens. Sy het inwoners wat haar ondersteun het, bedank.

“Ek is trots daarop dat die VF Plus se steun met 54 stemme van die vorige munisipale verkiesing gegroei het. Die VF Plus het verlede jaar 555 stemme verwerf. Ek sal nie verdwyn nie en sal steeds my gemeenskap dien,” het sy gesê.

Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) is daar 3 788 stemgeregtigde kiesers in Wyk 12 geregistreer waarvan slegs 2 032 (54%) opgedaag het om hul kruisies te trek. Tussen die twee stemlokale was die opkoms by die Kokanje-aftreeoord die beste met 611 kiesers uit die 846 wat aan die tussenverkiesing deelgeneem het. Slegs 1 421 kiesers van die 2 942 wat geregistreer is, het hul kruisies by die Susan Strijdomskool getrek. Dit beteken daar is 1 540 inwoners wat nie gestem het nie. Hoewel dit dalk klink na ’n minder geslaagde opkoms, is dit volgens kenners heel goed in vergelyking met die opkoms by ander tussenverkiesings.

Die OVK het geen tegniese probleme ondervind tydens die spesiale stemming op Dinsdag 2 Augustus en gewone stemming op Woensdag 3 Augustus nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button