Municipal

Bela-Bela se Wyk 1 moet ook weer stembus toe

Dit is nie net Modimolle-inwoners wat wéér moes stembus toe gaan nadat ’n DA-raadslid bedank het nie — dieselfde gebeur nou in Bela-Bela.

Dit volg nadat Tinus Ras, DA-raadslid, op Vrydag 29 Julie amptelik bedank het.

Sarna Groenewald, DA-raadslid van Wyk 12 in Modimolle, het ook vroeër bedank. Inwoners van dié wyk moes op Woensdag 3 Augustus weer stem waarna Wiets Botes van die DA, sakeman van die dorp en gesoute politikus, met die louere weggestap het.

Sy grootste teenstander was Mariska Greyling van die VF Plus. Botes het 1 388 stemme op homself verenig, die VF Plus 609, die ANC 18 en die EFF 17.

“Die aandag verskuif nou na Bela-Bela,” het Desirée van der Walt, LP en die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, gesê. Sy het voorts gesê die DA is steeds gefokus op dienslewering en sal die beste kandidate beskikbaar stel.

“Ons vertrou dat die kiesers van Wyk 1 steeds die DA sal ondersteun sodat dié wyk DA-gebied bly.”

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) sal die stemdatum bepaal sodra Ras se amptelike bedankingsbrief ontvang is. Ingevolge wetgewing moet dit binne 90 dae van die ontvangs van die bedankingsbrief geskied.

“Die DA wag nog self vir die amptelike bedankingsbrief van Ras. Onderhoude sal intussen gehou word vir die kandidaat wat hom of haar beskikbaar stel om in Ras se skoene te staan.”

Die DA was in die 2016-munisipale verkiesing die enigste party wat meer as 90% van die stemme in ’n munisipale wyk gekry het.

Met die volgende verkiesing in 2021 het die DA altesame 65% (2 631) van die kiesers in Wyk 1 se stemme op hulle verenig, met die VF Plus 26% (1 050), die ANC 4% (193) en die EFF 2% (52).

Die VF Plus se steun het aansienlik toegeneem tydens verlede jaar se verkiesing.

“Ons boodskap aan kiesers is baie eenvoudig. Ten spyte daarvan dat ons in bestaande DA-wyke staan, gee inwoners meer ondersteuning aan VF Plus-kandidate,” het Marcelle Maritz, VF Plus se provinsiale leier, by navraag gesê.

“Die party het verlede jaar vir die eerste keer ’n raadslid (Jee Dee Cloete) in Bela-Bela ingehuldig. Hy het homself tot op hede bewys as ’n kundige persoon wat in belang van die dorp en sy inwoners optree. My boodskap aan kiesers is dat ’n stem vir die VF Plus nie ’n vermorsing op leë beloftes is nie. Ons beplan ’n intensiewe veldtog in Bela-Bela en is reeds aan die werk om gereed te wees wanneer die verkiesingsdatum aangekondig word.”

Related Articles

Back to top button