CrimeNews

Nagmerrie op die N1

’n Reis op die N1-snelweg het vir twee motorryers en hul passasiers in ’n nagmerrie ontaard toe hulle die slagoffers van ’n bende rowers geword het.

Jan Masetla (65) van Zebediela, was met sy Nissan Minibus op die N1-snelweg op Donderdag, 20 Junie, om ongeveer 21:15 onderweg in Polokwane se rigting. Net na die Mantsole-weegbrug het hy oor skerp voorwerpe in die pad gery. Toe hy stop om ondersoek in te stel is hy skielik deur twee gewapende mans oorval.

Hulle het hom beveel om op die grond te lê, waarna sy voertuig deursoek is.

Die mans het ongeveer R2 100 uit sy beursie geneem, en te voet in die donkerte verdwyn.

In ’n tweede voorval, op Vrydagoggend, 21 Junie, om 01:50, het MT Mashabela en sy vrou Tinny (51), met hul Toyota Hi-Lux in ’n noordelike rigting op die N1 beweeg.

Hulle het drie vroulike passasiers in hul voertuig gehad. Net voor die Lehau-afrit, het hulle ’n harde slag onder die voertuig gehoor. Mashabela het gestop om ondersoek in te stel, maar kon niks fout sien nie.

Hy het verder gery en by die Lehau-oorbrug gevoel daar is fout met sy voertuig en hy moes noodgedwonge weer stilhou.

Hy was bewus van berigte van ‘spike’- insidente op dié pad en het besluit om in sy voertuig te bly.

Hy het hulp probeer ontbied met sy selfoon, maar kon niemand in die hande kry nie.

Ongeveer 15 minute later het hul ’n harde geluid soos ’n geweerskoot gehoor.

Sy voertuig se vooruit het gebars en hy het gemerk dat twee gewapende mans die voertuig nader.

Hulle het in Pedi/Tswana gepraat en geld en selfone van die insittendes geëis.

Die selfone en R1 400 in kontant is gebuit. Die voertuig is deursoek, en nog items is gebuit.

Die verdagtes het te voet, die veld in gevlug. Mashabela het ’n versteekte foon in die voertuig gebruik en hulp ontbied.

Tydens die polisie ondersoek is gevind dat die voertuig se linker voorwiel pap is, die voorruit was gebreek, en daar was ’n koeël gat in die paneelbord.

Kol. Annemarie Smit van die Bela-Bela SAPD het bevestig dat twee sake van gewapende roof ondersoek word. Niemand is tydens die twee voorvalle beseer nie.

Die twee voorvalle kom slegs ’n dag nadat die provinsiale kommissaris van Gauteng, genl. Tommy Mthombeni in ’n mediaverklaring bevestig het, dat ’n polisie-taakspan 26 verdagtes in hegtenis geneem het, wat verbind word met soortgelyke voorvalle op die N1, N4 en R80.

Volgens hom is daar 10 000 Metro-polisielede rondom Gauteng ontplooi om die brandpunte te patrolleer waar hierdie voorvalle plaasvind.

Die N1-snelweg word alom gereken as een van die brandpunte waar hierdie tipe voorvalle gereeld voorkom. Motoriste word afgeraai om in die nag te bestuur, en indien hulle vermoed dat hulle wel ’n slagoffer van “spiking” kan wees, moet hulle nie stop nie.

Die voertuig kan nog steeds beweeg met pap wiele. Ry sover as moontlik weg van die toneel, ’n motorband kan vervang word, maar ’n lewe nie.

Related Articles

 
Back to top button