CrimeNews

Vandale beskadig verkeerstekens

’n Saak is by die polisie in Mookgophong oopgemaak nadat verskeie padtekens en straatname deur vermoedelik vandale verniel is. Volgens raadslid Marita Louw is padtekens op verskeie plekke platgetrap en daar is ook dieselfde aand by ’n huis se lapa ’n televisie, drukpomp en ’n radio se luidspreker gesteel. Die voorvalle het vermoedelik Donderdagaand, 6 …

’n Saak is by die polisie in Mookgophong oopgemaak nadat verskeie padtekens en straatname deur vermoedelik vandale verniel is.

Volgens raadslid Marita Louw is padtekens op verskeie plekke platgetrap en daar is ook dieselfde aand by ’n huis se lapa ’n televisie, drukpomp en ’n radio se luidspreker gesteel. Die voorvalle het vermoedelik Donderdagaand, 6 Junie tussen middernag en 02:00 plaasgevind.

Die strate waar skade aangerig is, is in Van Wouwsingel, Pierneefstraat, Tweedelaan, Agstelaan, Vierdestraat en van die kant strate.

“Ons het verlede jaar ook ’n probleem gehad met kinders wat vandalisties optree en in die middel van die nag ander mense se eiendom betree. Ons het met die skuldiges gepraat en ’n ooreenkoms bereik,” het Louw gesê. “Die lyn van kattekwaad is egter baie dun en daar is nou items uit ’n erf gesteel. Die gemeenskap en AfriForum werk hard om te verseker dat die stoptekens en straatname weer opgesit is, dit kos duisende rande. Die munisipaliteit het nie voorraad om die skade te herstel nie.”

Die kontrakteur QTC het goedgunstiglik ingestem om die borde te herstel. Die koste beloop na raming R16 000.

“Daar is soveel mense wat hul tyd en geld gee om die dorp, waarop ons trots is, te herstel. Dit is nie aanvaarbaar dat ons dorp so verniel word nie,” het Louw gesê.

Die verkeerstekens wat nie meer sigbaar vir motoriste is nie, skep ook ’n veiligheidsrisiko.

Enige een wat inligting oor die voorval het, kan Louw skakel by tel. 083 273 4538.

* Die Pos het einde verlede jaar berig dat talle stoptekens in die dorp gesteel is. Min van hierdie stoptekens is intussen weer aangebring. Inwoners is bekommerd omdat die strepe op die pad wat aandui dat voertuie moet stop, ook skaars sigbaar is en ’n ongeluk maklik kan gebeur.

Related Articles

Back to top button