CrimeNews

Man vas wat twee met windbuks skiet

Die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord teen ’n man van Bela-Bela, wat op Donderdag, 6 Junie losgebrand en twee mans met ’n windbuks geskiet het. Die voorval het om 23:00 plaasgevind.

Die verdagte se naam mag nie bekend gemaak word alvorens hy in die hof verskyn het nie.

Na bewering het die verdagte se voertuig met ’n pap wiel naby die ingang van Forever Resort in Chris Hani-weg gestaan. Hy het glo probeer om ’n minibus taxi voor te keer vir hulp, maar die taxi het by hom verby gery en by Forever Resort se hoofhek gestop om personeel wat van diens afkom, te gaan oplaai.

Die verdagte het na bewering daarna die taxi te voet genader en tydens ’n onderonsie is die bestuurder van die taxi een keer met ’n windbuks in sy mond geskiet. Die verdagte het daarna te voet na Engen-vulstasie in Pretoriaweg beweeg en na bewering daar ’n tweede slagoffer nader geroep wat hy ook met dieselfde windbuks in die nek geskiet het.

Intussen het Forever Resort se sekuriteit en die SAPD op die toneel van die eerste voorval opgedaag om ondersoek in te stel. Die voorval by Engen is onmiddellik aangemeld en die verdagte is daar in hegtenis geneem.

Die man is tans in aanhouding en die welstand van sy geestestoestand om verhoor te word, word tans ondersoek.
Kol. Annemarie Smith het bevestig dat twee sake van poging tot moord ondersoek word, en dat beide slagoffers na die skietery opgeneem is in die hospitaal vir behandeling.

Die saak teen die verdagte, wat afwesig was, is Maandag, 10 Junie deur die Bela-Bela-landdroshof uitgestel vir verdere ondersoek en evaluering. Die verdagte sal op Woensdag, 19 Junie in die hof verskyn.

Related Articles

Back to top button