CrimeNews

Saak oor beroepsjagter se moord nader einde

Die saak van Chrisna van der Merwe, wat daarvan aangekla word dat sy haar man, beroepsjagter Botes van der Merwe (46), in Desember 2018 in hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle geskiet het, het verlede week weer in die hooggeregshof in Polokwane voorgekom. Sy word aangekla van moord- en diefstalklagtes.

Die staat beweer dat Van der Merwe haar man in hul badkamer geskiet het, nadat die egpaar die aand saam met Botes se oudste dogter, Celiné en een van haar vriendinne, gekuier het.

Die skote is na bewering afgevuur nadat hy en Van der Merwe laataand kamer toe is. Sy dogter het hom glo in die badkamer met skietwonde aangetref en Van der Merwe het in die slaapkamer gelê met ’n maagwond. Sy is per helikopter na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion geneem vir ’n noodoperasie.

Gedurende die verhoor het Van der Merwe volgehou dat sy aan geheueverlies ly oor die gebeure en dat die skietvoorval uit selfverdediging was.

Die hof het op Vrydag 31 Mei die finale argumente van die staat en verdediging aangehoor.

Volgens Chegofatjo Mabanna, kommunikasiebeampte van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sal Van der Merwe weer op Donderdag, 11 Julie in die hof verskyn vir uitspraak.

Related Articles

Back to top button