CrimeNews

Man wat bejaarde verkrag lank tronk toe

’n Man wat ’n bejaarde vrou van Vaalwater in 2022 beroof en in haar huis verkrag het, is ’n vonnis van veertig jaar opgelê in die Polokwane-hooggeregshof op Maandag 29 Maart.

Die hof het gehoor dat die 23-jarige David Zamikhaya Mbungendlu op 2 Desember 2022 om 03:30 ’n venster van die 76-jarige vrou se huis in Vaalwater oop geforseer het. Die vrou was in die badkamer en het die inbreker in haar kamer aangetref.

Mbungendlu het geëis dat sy vir hom geld gee en sy het haar handsak, waarin daar R400 was, aan hom gegee. Hy het haar daarna verkrag. Voordat hy op die vlug geslaan het, het hy haar huis se sleutels gevat.

AO. Ciska Fourie van die Modimolle-polisie.

’n Saak is by die Vaalwater-polisie geopen en is na die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings in Modimolle verwys. Die saak is aan AO. Ciska Fourie toegeken om te ondersoek.

“Ons het baie hard baklei om Mbungendlu so lank moontlik agter tralies te kry,” het sy aan Die Pos gesê.

Die slagoffer is steeds baie getraumatiseerd na die voorval en het nie in die hof getuig nie. DNA-bewyse het gehelp om die deurslag te gee. Hy het ’n vorige veroordeling vir huisbraak gehad en was in Januarie verlede jaar vir ses maande gevonnis.

Die hof het hom skuldig bevind op klagtes van huisbraak en diefstal (tien jaar vonnis), roof met verswarende omstandighede (vyf jaar) en verkragting (25 jaar). Die eerste vonnisse sal gelyklopend met die vonnis vir verkragting uitgedien word en vyf jaar van die vonnis is opgeskort. Dit beteken dat Mbungendlu effektief twintig jaar in aanhouding sal spandeer.

Die provinsiale kommissaris van die polisie, Lt. Genl. Thembi Hadebe, was vol lof vir AO. Fourie en haar span.

“Hierdie vonnis moet as ’n afskrikmiddel dien sodat oortreders weet dat die arm van die gereg lank is. Diegene wat hulle aan geslagsgeweld skuldig maak, het nie ’n plek in ons samelewing nie.”

Related Articles

Back to top button