CrimeNews

Vermeende bedrieër uitgevang na vals aanlyn-betalings

’n Man wat na bewering vals betalingsbewyse aan ondernemings in Modimolle gestuur het, moes op Vrydag 15 Maart in die hof in Modimolle verskyn op drie aanklagte van bedrog. Die staat het borg teengestaan omdat hy nie by vorige hofverskynings opgedaag het nie.

Die eerste klagte wat die Modimolle-polisie ontvang het, spruit daaruit dat die man in Januarie glo ’n betalingsbewys gestuur het vir die koop van ’n nagklub in Modimolle.

Die verkoper het egter lont geruik toe daar nie ’n inbetaling van eers een sent in sy bankrekening wys nie. Die man het na bewering daarna ’n deel van die geld betaal, maar nie die res nie.

In ’n tweede saak het die man volgens die klaer, meer as R12 000 se drank by ’n drankwinkel geneem en onderneem om ’n elektroniese oorbetaling te maak. Hoewel hulle glo ’n bewys van betaling ontvang het, het die geld ook nie in hul rekening gewys nie, het die ondersoekbeampte in die saak, AO Eugene Clarens, gesê.

In ’n derde saak het die man glo vir bykans twee weke by ’n bekende lodge buite die dorp gebly. Hy het weereens gesê dat hy ’n elektroniese betaling sou maak, maar die geld het nooit in die eienaar se rekening gewys nie. Die man het aangebied dat die eienaar sy karavaan hou tot hy sy betaling ontvang en het langer aangebly tot die eienaar van die lodge hom die hek gewys het en op die karavaan beslag gelê het.

Volgens AO. Clarens het die verdagte ook vier klagtes teen hom in Mosselbaai.

Drie van die klagtes is vir soortgelyke bedrogsake en een is vir beweerde dronkbestuur. Volgens die ondersoekbeampte het hulle nog inligting ontvang dat die verdagte na bewering ’n karavaan (dieselfde een wat hy aangebied het by die lodge as betaling) ook aangekoop het sonder dat daar ’n betaling gemaak is. Hy het na bewering ook ’n Toyota Fortuner en ’n Ford Raptor op so ’n wyse bekom.

Nog ’n klaer het na vore gekom en gesê dat sy sakeonderneming en die voertuie, waarvan die waarde meer as R2,5 miljoen is, uit hul bates geswendel is. Daar is beslag gelê op die voertuie en karavaan.

Die man, wie se naam nie bekend gemaak kan word alvorens hy in die hof gepleit het nie, se borgaansoek word op Donderdag 4 April in Modimolle aangehoor.

AO. Clarens vra inwoners wat bykomende inligting het, om hom te skakel by tel. 082 451 7177.

Related Articles

Back to top button