CrimeNews

Na jare se sloer gaan renostersaak voort

Die hofsaak teen die wildsboer Dawie Groenewald en onder andere ’n plaaslike veearts, wat op verskeie klagtes van renosterstropery en verwante klagtes teregstaan, gaan in Oktober vanjaar ná vele uitstelle wat oor meer as 14 jaar strek, voort.

Mashudu Malabi-Dzhangi, die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Limpopo, het bevestig dat die saak vanaf 7 Oktober op die rol in die hooggeregshof in Polokwane geplaas is. Dit behoort tot in die eerste week van November te duur, het sy gesê.

Groenewald en sy vrou Sariette is op 22 September 2010 in hegtenis geneem saam met dr. Karel Toet en sy vrou Mariza, dr. Manie du Plessis, Tielman Erasmus, Gys du Preez, Nardus Rossouw, Jacobus Pronk, Dewald Gouws en Paul Malhoromela. Beide Toet en Du Plessis was in daardie stadium veeartse in Modimolle. Malhoromela is intussen oorlede en die klagtes teen Du Plessis is laat vaar nadat hy vertoë gerig het.

Foto: Citizen

Op die aanvanklike klagstaat was meer as 1872 klagtes wat insluit beweerde oortredings met permitte om renosters te jag, onwettige jag, geldwassery, rampokkery en handel in en die verkoop van renosterhorings. Die beskuldigdes word nie almal op al die klagtes vervolg nie.

Verskeie nuusagentskappe het destyds berig dat van die karkasse van die twintig onhoringde renosters in 2010 op Groenewald se plaas gekry is. Groenewald is na sy in hegtenisname op R1 miljoen se borgtog vrygelaat.

Die saak is die afgelope veertien jaar herhaaldelik uitgestel, onder andere weens hangende beslissings oor renosterhandel wat die sake teen die beskuldigdes sou beïnvloed. Die moratorium teen die binnelandse handel in renosterhoring is in November 2015 ter syde gestel met onmiddellike en terugwerkende effek.

Edna Molewa, die minister van omgewingsake het egter in 2016 die hooggeregshof genader vir verlof tot appel, maar dit is geweier. Sy het haar daarna tot die hoogste hof van appel gewend, maar dit is van die hand gewys.

As ’n lidland van die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Fauna en Flora (Cites) word Suid-Afrika gebind deur hul verbod op die internasionale handel in renosterhoring.

Related Articles

Back to top button