CrimeNews

Hof beslis oor twee verkragters se lot

’n Verkragter wat meer as ’n jaar gelede vasgetrek is, is Donderdag 25 Januarie tot 15 jaar effektiewe tronkstraf in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis.

Sono Phillip Modibeng (60) is in November 2022 aangekeer deur lede van die plaaslike gesinsgeweldtak (FCS) onderleiding van ao. Ciska Kruger. Hy is aangekla van drie aanklagte van verkragting in die Vaalwater-omgewing. Die voorvalle het in Mei 2013, November 2016 en in Mei 2017 plaasgevind met sy slagoffers wat tussen 17 en 55 jaar oud was. Hy is ook van roof aangekla nadat hy een van sy slagoffers met ’n mes gedreig het en haar selfoon gevat het.

Die Pos het vroeër berig dat Modibeng voorheen ook in Noordwes aan verkragting skuldig bevind is en ook ’n vyf jaar vonnis opgelê is weens huisbraak in die Lephalale-omgewing.

Nog ’n man wat op klagtes van verkragting aangekeer is, Abel Sello Lefoane (35), se verhoor begin op Maandag 5 Februarie in die hooggeregshof in Polokwane. Hy staar moontlik ’n lewenslange vonnis in die gesig en het ook vorige veroordelings. Die Pos het vroeër berig dat Lefoane in 2007 tot tien jaar tronkstraf gevonnis is op aanklagte van verkragting. Hy is in 2015 vrygelaat, maar is weer verbind met vyf aanklagte van verkragting in die Vaalwater-omgewing wat tussen 2015 en 2016 plaasgevind het.

Daar is ook twee klagtes van huisbraakvoorvalle wat in 2006 en 2007 in Vaalwater en Lephalale gepleeg is. Lefoane is in November 2022 in Vaalwater in hegtenis geneem.

Related Articles

Back to top button