CrimeNews

Mokopane: Moordverdagte doen aansoek om borgtog

Die man wat daarvan verdink word dat hy Schalk Pienaar (69), ’n bekende prokureur en oudpolitikus van Mokopane, in September 2022 vermoor het, het vandag aansoek om borgtog in die landdroshof in Mokopane gedoen.

In sy aansoek vra Tsholofelo Joseph Motsoane dat borg toegestaan word weens sy swak gesondheid en voer aan dat hy nie sonder krukke kan loop nie, volgens Afriforum se privaatvervolgingseenheid. Die eenheid het op versoek van die familie betrokke geraak by die ondersoek.

Pienaar is op die toneel dood nadat hy die Maandagmiddag 19 September net na 18:30 verskeie kere in sy motoroprit geskiet is, kort nadat hy tuis gekom het. Volgens berigte het hy plante water gegee toe daar op hom losgebrand is. Hy na die motorhuis gevlug, waar hy oorlede is. Sy vrou, Fransie, was tuis ten tyde van die aanval en moes magteloos toekyk hoe hy sterf.

Fransie en haar dogter Bardien Pienaar. Foto: verskaf deur Afriforum se privaatvervolgingseenheid

Motsoane verskyn op klagtes van moord, sameswering om moord te pleeg en vuurwapen-verwante klagtes. Hy het glo ook die ontsnappingsvoertuig bestuur. Die staat, wat borg teëgestaan het, het die hof ingelig dat hy vorige veroordelings vir poging tot moord, roof en diefstal het. Hy het ook glo voorheen uit aanhouding ontsnap. Motsoane is in Oktober 2022 aangekeer, maar klagtes teen ’n tweede verdagte is laat vaar.

Pienaar se vrou Fransie en dogter Bardien van der Hoven is in die hof deur die span van Afriforum bygestaan. Die ervare speurder van die Modimolle-polisie, kapt. Ross Rossouw, is ook betrokke by die ondersoek.

“Dis moeilik om hier te sit. Dit was ’n tyd van 46 jaar se getroude lewe. Hy het geglo in die regs-teoretiese proses waardeur ’n mens behoort te gaan,” het ’n emosionele Fransie na die verrigtinge gesê.

Die saak is vir 22 tot 26 Julie in die hooggeregshof in Polokwane op hofrol geplaas. Die hof in Mokopane sal Vrydag (more) uitspraak in die borgaansoek lewer.

Related Articles

Back to top button