Crime

Renosterkalf wees ná stropers toeslaan

Renosterstropers het vir die tweede keer in drie maande toegeslaan op ’n plaas in die Rooiberg-omgewing.

Twee renosters is op Maandag 30 Oktober op die Pomo Estate geskiet en hul horings is verwyder. Die drie maande oue kalf, wat vermoedelik teruggekom het na die koei toe, is volgens die ondersoekbeampte, AO Jurg van Heerden, in ’n redelike toestand nadat dit met messe gekap en gesteek is. Die kalf is in veilige sorg geplaas.

Volgens ’n polisieverklaring het die grondeienaar sy renosters nog Sondagoggend teen ongeveer 09:20 gesien sonder dat enigiets verdags voorgekom het. Een van sy werknemers het hom Maandagoggend net ná 09:00 gebel met die nuus dat daar vreemde voetspore deur die plaas opgemerk is. Hulle het dadelik gaan kyk of die renosters veilig is, maar het ’n witrenosterbul en -koei dood gevind. Hulle horings was verwyder.

Die Pos verneem dat die grondeienaar ’n buitelander is.

Volgens Van Heerden ondersoek die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies die saak.

“Die forensiese ondersoek is afgehandel en daar is DNA van die renosterhorings geneem. Indien die horings enige plek in die wêreld opduik, sal ons dit met hierdie stroping kan verbind,” het hy gesê.

“Boere moet weet dat wanneer hulle renosters aanhou, hulle veiligheidsmaatreëls móét tref. Die twee renosters is by die voerplek geskiet — presies waar die vorige twee renosters ook geskiet is. Die stropers weet presies wat op die plase aangaan en waar om na die diere te gaan soek,” het hy gesê.

Enige persoon met inligting oor die voorval kan Van Heerden bel by tel. 082 414 2337 of Crime Stop by tel. 08600 10111 te skakel. Dit kan ook by die naaste polisiestasie aangemeld word.

Volgens die Internasionale Renosterstigting (International Rhino Foundation) se 2023-verslag oor die stand van die wêreldwye renosterpopulasie, sien hulle ’n verandering in die wyse waarop renosters gestroop word. Die fokus het weggeskuif van groot groepe diere waar daar deeglike veiligheidsmaatreëls is, na kleiner groepe wat weerloos is. Toenemende veiligheidsmaatreëls by groot reservate soos die Krugerwildtuin maak dit moeiliker om renosters daar te stroop.

Daar word bereken dat daar in Suid-Afrika ongeveer 12 968 witrenosters is. Regoor Afrika is daar 16 803, die meeste van enige van die vyf renosterspesies. Hulle syfers word egter erg geknou deur stroping en hulle word steeds as ’n bedreigde spesie beskou. Daar is slegs 2 056 swart renosters in die land en hulle word as krities bedreig geag, hoewel hulle getalle toeneem.


Bron: rhinos.org
  • Wit renosters het ’n merkwaardige ommekeer in getalle gemaak nadat daar na raming minder as 100 renosters in die vroeë 1900’s was tot meer as 21 000 aan die einde van 2012.
  • Swartrenosters was op ’n stadium die algemeenste spesie, met ’n geskatte 100 000 diere regoor Afrika in die 1960’s.

Related Articles

 
Back to top button