Crime

Ligloop vir skelms

Hoewel die Waterberg se misdaad baie laer is as in ander dele van die land, waarsku wetstoepassers dat booswigte in aanloop tot die Kersseisoen baie bedrywig is en dikwels toeslaan op mense wat nie paraat is nie.

Talle mense het die afgelope tyd onder bedrieërs deurgeloop en veral internetbooswigte is volop. Volgens ’n woordvoeder van sektorpolisiëring in die omgewing is sosiale media vol skelms wat produkte of dienste aanbied wat bloot nie bestaan nie. Niksvermoedende mense dink hulle koop of verkoop winskopies, maar sit op die ou einde sonder die geld én die produkte of toerusting, waarsku hy.

Inwoners word ook gewaarsku dat diewe weer hul visier op hekmotors het.

Inwoners word aangeraai om kameras te installeer of by hul bure wat wel kameras het, te gaan vra vir videomateriaal. Dit help ontsettend baie as daar duidelike foto- of videomateriaal van booswigte se gesigte en hul bedrywighede is. Inwoners word ook gevra om kameras só te installeer dat beeldmateriaal van toegangspaaie beskikbaar is sodat verdagte voertuie maklik nagegaan kan word.

Koperpype, koperkabels en solarligte word ook deesdae gereeld gesteel. Inwoners word aangeraai om hul items sover moontlik te merk, selfs al is dit net met ’n spesifieke verfkol of -streep. Dit maak uitkenning ná diefstalle baie makliker.

Inwoners word ook aangeraai om alle misdade aan te meld — selfs al word dit as “nietig” beskou. Dit help wetstoepassers om tendense te bepaal, waarsku ander inwoners en verras dikwels die misdadigers.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button