Crime

Wakker wagte herken verdagtes

Vyf verdagtes is aangekeer danksy die op en wakker veiligheidswagte by twee banke in Modimolle.

Die wagte het op Dinsdag 26 September ’n verdagte, wie se foto op die banke se databasisse gelaai was, herken en alarm gemaak, het AO. Pieter Booyse gesê.

Die man het die bank verlaat, maar danksy ’n deeglike beskrywing van sy motor kon die Modimolle-polisie vinnig reageer en die wit Volkswagen Polo is opgespoor. Die polisie van die Capricorn-distrik het die verdagte op die N1 naby Polokwane ingewag.

Volgens ’n persverklaring deur die polisie, is drie verdagtes in die motor onmiddellik in hegtenis geneem nadat twee vuurwapens en ammunisie in hul besit gevind is. Terwyl hulle besig was, het die polisie verdere inligting oor nog ’n verdagte voertuig ontvang wat by die Savanna Mall buite Polokwane geparkeer was, wat moontlik verbind is met die eerste voertuig. Twee mans in die voertuig is ook in hegtenis geneem nadat ammunisie by hulle gevind is. Die polisie het beslag op die twee voertuie gelê.

“Ons doen verdere ondersoek om te bepaal of die verdagtes ook met ander misdade in die provinsie verbind kan word,” het Booyse gesê.

Die verdagtes, wat tussen die ouderdomme van 29 en 33 is, sal in die landdroshof in Polokwane verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button