Crime

Tientalle verkeerstekens verdwyn net spoorloos

Waar is die stopstrate heen?

Talle strate in Wyk 11 en 12 in Modimolle se stoptekens het spoorloos verdwyn met die pale wat hier en daar soos kaal geraamtes bly staan. ’n Vinnige draai deur hierdie twee wyke het getoon dat meer as 30 stoptekens verwyder is.

Wat die probleem vererger, is dat die strepe wat op die pad geverf is, plek-plek só dof is dat daar geen aanduiding is dat motoriste moet stilhou nie. Daar is ook op baie plekke geen straatname aangedui nie.

Diegene wat reeds geruime tyd in die omgewing woon, weet waar die stoptekens was en bestuur daarvolgens, maar vir nuwelinge en besoekers is daar geen aanduiding dat hulle voor aankomende verkeer gaan beland indien hulle nie stilhou nie.

In Leydsstraat is daar stoptekens weg by die kruisings met Magazyn-, President-, Nicol- en Paul Krugerstrate.

In Elias Motswaledistraat (voorheen Collinsstraat) is daar stoptekens weg by Paul Kruger-, Nicol-, President-, Chris Haniweg en die aansluiting by die Bela-Bela-pad.

In Boshoffstraat is daar stoptekens weg by Strydom-, Booysen-, Smit-, Maroela-, Schoeman-, Olienhout-, Impala-, Duiker- en Kerkstrate.

In Swartstraat is daar stoptekens wat vermis word by die kruising met Kerk- en Odendaalstraat, asook by Odendaal- en Gholfstrate. Gholfstraat het ook nie stoptekens by die kruising met De Beer- en Emmastraat nie en De Beer se kruising met die besige Bela-Bela-pad het ook nie ’n stopteken nie.

Wyksraadslid Wiets Botes vermoed dat kwaaijongens verantwoordelik is vir dié vandalisme. “Ek het ook ’n stopstraat by my kantoor wat ek weer moes plant. Dit is ’n probleem,” het hy gesê.

“Dit is ’n kriminele oortreding om verkeerstekens te verwyder. Diegene wat dit doen moet onthou dat ons woonbuurte veiligheidskameras het en hulle kan hulself vasloop,” het hy gesê. “Inwoners moet verkeerstekens wat uit hul buurt verwyder is, by die munisipaliteit se inbelsentrum aanmeld. Hulle kan dan hul verwysingsnommer, asook die adres waar die probleem ondervind word, aan my stuur sodat ek dit kan opvolg.”

Botes se kontaknommer is tel. 083 501 0079 en die munisipale inbelsentrum se nommer is tel. 087 223 1234.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button