Crime

Provinsiale kommissaris veroordeel gemeenskap se aanval op polisie

Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt. genl. Thembi Hadebe, het die beweerde aanval deur gemeenskapslede op polisiebeamptes ten sterkste veroordeel.

Die voorval het op Saterdag 19 Augustus in Uitbreiding 8 in Mookgophong gebeur terwyl die polisie ’n verdagte in hegtenis wou neem.

Volgens Hadebe het die polisie ’n klag van gesinsgeweld ontvang ná ’n voorval in Uitbreiding 8. Die polisie het dadelik gereageer, maar die verdagte was nie meer op die perseel waar die voorval plaasgevind het nie. Terwyl die polisie met die ondersoek besig was, het die verdagte, wat ’n beskermingsbevel oortree het, glo opgedaag en een van die polisielede aangeval in verset teen sy arrestasie.

Die verdagte is tydens die skermutseling met die polisie in die knie geskiet. Daarna het inwoners, wat om die polisie en nooddienste saamgedrom het, die polisievoertuig met klippe bestook.

’n Saak van opsetlike saakbeskadiging is ná die voorval geopen. Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die verdagte is na die hospitaal geneem en onder polisie bewaking geplaas. Hy sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

“Hierdie daad van geweld teen die polisie is onaanvaarbaar en ondermyn die veiligheid van die gemeenskap. Polisiebeamptes wat hul pligte op ’n wettige wyse uitvoer, sal nie net toekyk wanneer hulle aangeval word nie. Ons verwag dat die gemeenskap saam met die polisie sal werk en hulle nie sal verhoed om geslagsbaseerde geweld teen vroue en kinders (GBV)-slagoffers te ondersoek nie. Oortreders moet opgespoor en so gou moontlik aangekeer word,” het Hadebe gesê.

Die polisie het ’n beroep gedoen op enigeen wat meer inligting oor die voorval het, om kapt. Mape Modiba (ondersoekbeampte) te kontak by tel. 082 565 8299 of die naaste polisiestasie.
Inligting kan ook anoniem op Crime Stop tel. 086 001 0111 of aan MySAPSApp gestuur word.

Die saak is by die onafhanklike polisieondersoek direktoraat (OPOD) aangemeld vir verdere ondersoek.

Related Articles

 
Back to top button